Gedagte vir die dag: Meer as die sterre

aand_sterre_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ’n naam” (Psalm 147:4)

As ’n mens in die stad woon, kry jy nie dikwels die kans om die melkweg in al sy skitterende glorie te aanskou nie. Wanneer daar egter ’n geleentheid opduik om die sterre iewers op ’n plaas te gaan bekyk, is betowering gewaarborg en word jy gou-gou oorweldig deur die uitspansel hier bo jou.

Die heelal en die grootsheid daarvan, maar ook die omvang van ons “klein” sonnestelsel, is gans te buitengewoon vir ons beperkte begrip. Wit dwerge en swart gate en rooi reuse; novas en supernovas … Dis alles ligjare bo my vuurmaakplek.

Wanneer ek oor groot en onverstaanbare dinge begin dink, kom God en sy grootsheid dikwels in my gedagtes op. Selfs al weet ons alles van die sterrehemel en kan ons die heelal haarfyn uitpluis, sal die omvang en ewigheid van God altyd ons kop laat draai.

Die psalmdigter sê: “Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ’n naam” (Ps 147:4). Dat ’n God wat so iets doen Hom met kleintjies soos ons en ons probleempies bemoei, is ’n wonderwerk. Hy wat ligjare bereken en sy uitdyende heelal beskou, dra ook ons klein kommer op sy hart.

Hy is die Een wat alles laat begin het en ook alles op sy tyd en volgens sy wil sal beëindig, Hy tel ook óns dae.

Ons weet dit alles. Die vraag is wat ons met hierdie kennis doen?

Ons sal voortaan ophou om ons te bekommer dat ons probleme te groot is vir Hom. Ons sal dadelik ophou twyfel aan sy erns om ons te genees. Ons sal die gedurige angstigheid dat Hy dalk iewers van ons gaan vergeet op die daad opskort. Ons weet tog dat Hy oor die aantal sterre besluit én dat Hy die hare op ons kop tel (vgl. Ps 147:4; vgl. Matt 10:30).

Die enigste reaksie op hierdie kennis wat naastenby gepas is, is om dankbaar te wees dat sy grootheid Hom nie van ons afskei nie. En dat sy liefde vir kleintjies soos ons groter as die grootste melkweg is en sy geduld met ons eenvoudigheid veel langer duur as wat ons aarde oud is.

Here, dankie dat U magtig is en dat ons nooit uit u hand sal val nie. En dat geeneen van ons groot bekommernisse vir U te swaar is nie.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

AMEN, baie dankie aan MM vir die daaglikse boodskappe. ons God is groot

Koos ·

Onse Vader, geheiligd is U naam. Dank lof eer aan U Skeppergod!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.