Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. (1 Korintiërs 13:7)
“Generosity” beteken meer as vrygewigheid. Dit beteken dit ook, maar “generosity” is ’n ruim manier van leef. Dis om binne die roetes van 1 Korintiërs 13 te leef. “Generosity” maak dat jy ruim met mense omgaan en aan hulle die voordeel van die twyfel gee. Jy verwag die beste van hulle, al is jy die enigste een by die werk of die skool wat dit doen. Jy leer om verby daardie hindernis se te kyk wat ander mense eerste raaksien, soos mense se velkleur, status, seksuele voorkeur of voorkoms. Daarom kan mense jou verras. Maar selfs al doen hulle dit nie, laat God se liefde jou nie toe om bedreig, benoud of goor te reageer nie. Jy is wie jy is. Jy leef die liefde uit, al is jy die enigste een. God se liefde het nie getalle nodig voordat dit eg of waar is nie. Sy liefde vloei immers uit jou hart uit.
Hoe leef jy met “generosity” tussen mense wat dinge glo soos “mense is rugstekers”, tot “kry daardie mense terug wat jou seermaak”. Die vreemdste van alles is dat dit godsdienstiges is wat meestal ook so leef. Wel, jy kry weer die bekendste Bybelse hoofstuk oor die liefde – 1 Korintiërs 13 – terug in jou lewe. Daar sê Paulus dat jy die beste van ander moet hoop en glo. Nee, dit beteken nie jy laai iemand se pistool vir hom as hy wil gaan selfdood pleeg nie. Maar dit vra wel van jou om oop te wees teenoor mense en aan hulle die voordeel van die twyfel te gee. As jy sê Jesus is my Heer, is dit jou roete. Dan vertrou jy eerder as om te wantrou. Dan hoop jy eerder as om te wanhoop.