Gedagte vir die dag: ’n Ander gees

landskap_stiltetyd.jpg

Foto: pixsbay.com

Maar my kneg Kaleb, omdat ’n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg – hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem. (Numeri 14:24)

Kaleb het “’n ander gees” gehad – ’n gees van geloof. Hy het dinge wat nie bestaan nie, gespreek asof hulle wel bestaan. Hy het na die berg gekyk, en in sy oë het dit ’n molshoop geword. Hoekom? Hy het alles wat hy gedoen het, aan God toegewy.

Terwyl ek hieraan dink, herinner dit my aan Dawid wat na Goliat gekyk het en nie ’n reus gesien het nie, maar ’n geleentheid om God te verheerlik. As jy ’n reus of ’n berg moet trotseer, wat sien jy? Jou antwoord sal jou insig gee in die soort gees wat jy het. Paulus het vir Timoteus in 2 Timoteus 1:7 gesê: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”

As jy hierdie krag, liefde en selfbeheersing wil bekom, moet jy jouself aan God onderwerp. Ons praat hier van algehele toewyding aan God, toewyding wat Hom erken as alles in jou lewe. Dit is die tipe persoon wat Kaleb was. Die ander spioene het gesê: “Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot” (Numeri 13:27-28). Die mense het soos gewoonlik gereageer en gesê hulle wil teruggaan Egipte toe. Maar Kaleb het gesê: “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” (Numeri 13:30).

Sien jy die verskil tussen die twee tydinge? Die een het gegaan oor al die moeilikhede; die ander oor al die moontlikhede. Was Kaleb se reaksie gebaseer op positiewe denke? Nee, glad nie. “As die Here ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” (Numeri 14:8-9) Kaleb het sy God geken, en deur hierdie kennis het hy ’n ander gees gehad.

My Vader, ek buig in u teenwoordigheid. Ek dank U dat my geloof nie gebaseer is op positiewe denke nie. Soos Kaleb, is my geloof gebaseer op kennis van U. U het my nog nooit in die steek gelaat nie en ek staan vandag sterk in u liefde en getrouheid. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek weet dat as U by my is is ek n oorwinnaar

Blomme ·

Dankie Almagtige Vader. U laat ons nooit in die steek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.