Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie (Kolossense 3:7-8)
My man gebruik ’n ou Zimbabwe-dollarnoot as ’n boekmerk. Hy kan dit nêrens gebruik nie, want jare gelede het die Zimbabwe-dollar alle waarde verloor en dit is uit sirkulasie onttrek. As hy daardie noot in ’n winkel sou probeer gebruik, sou die mense hom vreemd aankyk. Iemand kan dalk selfs die sekuriteit roep.
Waar in die wêreld ons ook al is, ons moet die geldeenheid van daardie land gebruik. En as gelowiges – wat deur God leef en beweeg en bestaan en ons identiteit in Hom vind (Hand. 17:28) – moet ons die geldeenheid van die koninkryk gebruik: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22-23). Ons kan ook betaal met vergifnis en selfopoffering, gehoorsaamheid en gebed. Ons kan genade-krediet aan ander mense toestaan, ongeag of hulle kwalifiseer vir die lening en of hulle ons ooit sal kan terugbetaal.
Die koninkryk se geldeenheid is nie wandade nie. Hoekom dryf ons dan steeds handel daarin? Die koninkryk se geldeenheid is nie onvergewensgesindheid, jaloesie of haatspraak nie, en tog belê ons grootliks in hierdie hoërisikoportefeuljes. En as jy buitelandse valuta opgegaar het? Ruil dit om en reis lig.
Here, help my om my lewe te vereenvoudig deur net die kontant van u koninkryk met my saam te dra. Amen.
Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!
Dankie vir alles Here. Amen.