Ons hoop en ons wag vir die dinge wat sal gebeur, daarom is ons lewe veilig en daarom kan ons vas glo. Dit is soos ’n anker wat keer sodat ’n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is, Jesus wat agter die gordyn in die tempel ingaan. (Hebreërs 6:19, Die Bybel vir almal)
Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. (Hebreërs 6:19)
In die Bybelse tye het mense gereeld op skepe gevaar. Hulle het in storms beland. Soms het skepe hulle teen rotse of sandbanke te pletter geloop en die bemanning moes aan wrakstukke vasklou en uitswem, soos Paulus en sy medepassasiers naby Kreta op hul seereis na Rome. Oral in die Bybel is daar ook verwysings na ’n anker wat uitgegooi is wanneer ’n skip in stormsee beland het.
Geloof en hoop is die anker in ’n Christen se lewe. In onseker tye klou jy verbete daaraan – soos ’n drenkeling. By terugskoue besef ons dikwels eers dat dit Christus self was aan wie ons vasgehou het. Hy is ons anker. Onwankelbaar. Sterk. En altyd daar.
Omdat heelwat vroeë Christene nie kon lees of skryf nie, is simbole dikwels gebruik om geloofskonsepte te verduidelik. Die vis – as simbool van Christus – is dikwels saam met ’n anker – as simbool van hoop – uitgebeeld. Die teksvers hierbo beskryf hoop as ons anker.
Maar: Ons mag nie in ons veilige hawe vasgeanker bly lê nie. Die anker moet gelig word. Ons moet bereid wees om op die oop see uit te gaan en geloof, hoop en liefde uit te dra – met Christus ons veilige anker op die stormsee.
Here Jesus, dankie dat U my anker is. Ek weet dat geen storm my ooit sal oorweldig nie. Amen