Gedagte vir die dag: ’n Dienskneg van God

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was. (Johannes 13:4-5)

Ek dink nie ons sal ooit vergeet hoe God self sy skepsels se vuil voete gewas het nie. Ons moet verstaan dat ’n klein daad soms meer kan spreek as duisend woorde.

Die eerste president van die Verenigde State van Amerika was George Washington. Nadat hulle die Amerikaanse Vryheidsoorlog teen Engeland gewen het, was daar ’n klomp ondergevegte tussen die offisiere. In ’n poging om die vrede te bewaar, het George Washington ’n lang toespraak afgesteek wat nie regtig ’n indruk op hulle gemaak het nie. Hulle was nog steeds ontevrede en bakleierig.

Aan die einde van sy toespraak het hy ’n brief uit sy sak uitgehaal. Voordat hy dit begin lees het, het hy gesê: “Menere, julle moet my verskoon. Ek is oud en ná al die jare wat ek my land gedien het, is ek besig om blind te word.” En skielik was dit doodstil in die vertrek. Daar word vertel dat sommige van die offisiere openlik begin huil het, terwyl die man wat homself so volkome gegee het nou vrede probeer bring tussen hulle.

Een klein handeling kan dikwels meer as woorde sê. ’n Klein opoffering kan dalk iemand anders se lewe verander. Wees sensitief vir God se stem en laat Hy jou na die regte persoon toe lei. Gaan uit en staan bekend as iemand wat ander se voete vir Christus was.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.