Gedagte vir die dag: Nie ingewikkeld nie

see_strand_stiltetyd_Nedine-Blom.jpg

Foto: Nedine Blom

As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat (Johannes 7:17)

Ons jongste seun het ’n paar jaar gelede sy sakgeld in ’n toeritsplastieksakkie gebêre en aanhou sê dat hy dit vir ’n groep hawelose, werklose mans gaan gee wat elke dag naby ons huis rondgestaan het. Uiteindelik het ek ingegee en gesê: “Goed, vandag is die dag.” Ek het na die groep mans toe gery en die motor in die stof tot stilstand gebring. My seun het uitgeklim en na ’n man toe gedrafstap.

Dié man het met ’n breë glimlag regop gespring. Dit was asof hy die blonde kind op daardie warm Dinsdag verwag het. Daar was geen ongemak nie. Geen verduidelikings was nodig nie. Dit was ’n God-oomblik. Die geheimenis van eenvoudige geloof en eenvoudige getrouheid.

Ek onderskat die Heilige Gees se krag in my kinders se lewens. Hoe onvolwasse hulle begrip van geloof ook al is, as hulle Jesus aanvaar het, het hulle sy Gees ontvang (Rom. 8:9). En die Gees sal hulle in die volle waarheid lei (Joh. 16:13), sy begeertes in hulle harte openbaar (Ps. 37:4) en hulle aanspoor om sy wil te doen (2 Tess. 1:11). Ek en jy kan ook hierop staatmaak.

Ons sê so dikwels ons sóék God se wil, asof dit weggeraak het. Maar eintlik is dit nie so moeilik om raak te sien wat volgende op sy agenda vir jou is nie. Dit is nie so diep verborge nie.

Here, help my om te ontspan en te doen wat U vra. Amen.

Bron: Reis lig deur die lewe deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen!

Strandloper ·

Dankie vir die mooi boodskap Sy woord daar in was regtig vir my bedoel. “God is not dead”

Elsie Riekert ·

Ek waardeer al die boodskappe. Mag die senders God se seen ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.