Gedagte vir die dag: Om goed te eindig

Foto: Annelize Brits

Ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee. (Filippense 3:13-14)

Paulus teken in Filippense 3 die prentjie van atlete wat al hulle energie inspan om ’n prys te wen. Met hulle oë op die wenstreep gerig, maak niks anders vir hulle saak nie as om die wedloop ten beste te voltooi.

Die doelwit wat Paulus in gedagte het, is om Christus te ken, om soos Christus te wees, en om alles te doen wat Christus van hom verwag. Paulus het rede gehad om hom te wou losmaak “van dit wat agter hom lê”; hy het immers die boklere van die mense wat Stefanus ter wille van sy geloof gestenig het (Hand. 7:57-58), opgepas terwyl hulle met die teregstelling besig was. En hy het Christengelowiges vervolg (Hand. 9:1-12). Maar toe het Christus hom letterlik op die grond neergeslaan en sy hele lewe omgekeer. Die voormalige vervolger van Christene het self ’n Christen geword wat die Goeie Nuus uitgedra het oor die grootste deel van die destyds bekende wêreld.

Wat lê daar in jóú verlede? Watter donker geheim probeer jy wegsteek? Paulus sê jy moet dit wat in die verlede lê, vergeet, en jou uitstrek na wat voor is. Omdat jou hoop op Christus gevestig is, kan jy met vertroue vorentoe kyk na wat God van jou lewe wil maak. Moenie dat enigiets jou weglei van jou einddoel af nie: jou doel om Christus te ken. Gaan vasberade voort, soos ’n toegewyde atleet gefokus op jou doelwit om goed te eindig in hierdie lewensbelangrike wedloop.

Wat moet jy doen sodat jy die verlede agter jou kan stel en voluit kan fokus op ’n goeie einde?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.