Gedagte vir die dag: Ons rots en ons toevlug

rots_lighuis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy is die Rots; sy werk is volmaak. Alles wat Hy doen, is reg. Hy is ’n getroue God, sonder enige onreg. Hy is regverdig en betroubaar! (Deuteronomium 32:4)

Rotse is onwankelbaar. Betroubaar. Sterk. Onbeweeglik. Iets waarteen ons kan leun wanneer ons voel ons wil omval. Ons bou ons huise op rots wanneer ons wil hê dit moet sterk staan, en God is die Rots waarop ons ons lewe bou wanneer ons wil hê dit moet die storms van die lewe kan weerstaan. Wanneer alle ander dinge uitmekaarval, is God steeds daar en Hy stort sy liefde en trou oor ons uit.

Die feit dat God ’n rots is, is wat Hom kan laat belowe dat Hy volmaak, regverdig, getrou en opreg is. Die onveranderlike standvastigheid van ons heilige God beteken ons kan vertrou dat Hy altyd sal doen wat reg is. Hy kan nie foute maak of onregverdig optree nie.

Wat ’n genade is die volmaakte regverdigheid van God! Hy het verklaar wat reg en wat verkeerd is, en dit sal altyd so wees. Hy het belowe om te doen wat reg is, en Hy sal dit altyd doen. Wanneer ons verraai of beledig of onderdruk word, kan ons onsself toevertrou aan die God wat nie doen wat verkeerd is nie. Wanneer ons die onreg in die wêreld sien, kan ons ons saak voor God bring, die Een wat oor gedagtes en motiewe kan oordeel en altyd doen wat reg en regverdig is. In alle omstandighede kan ons ons toevlug tot die Rots van ons verlossing neem.

Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting. – Psalm 18:3

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.