Gedagte vir die dag:  Onthou!

Namakwa_kokerboomwoud-Copy.jp

Die kokerboomwoud (foto: Namakwa Toere)

Lees Psalm 105:1-15

Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade … (Psalm 105:5)

Tipies, dié oproep van ’n geestelike voorganger, nie waar nie? Die bevel om God te loof, om terug te dink aan sy daadwerklike goedheid, aan die kere toe Hy hulle gered het. Daar is mos baie sulke geleenthede; hulle behoort nie te sukkel om te onthou nie.

Hoekom is dit dan hoegenaamd nodig dat die psalmdigter sy mense moet aanmoedig om dit te doen? Is hulle bloot, soos alle gelowiges, traag om dankie te sê nadat hulle haastig was om asse- blief te vra? Waarskynlik, ja.

Daar is dalk ook iets anders: Mense, juis ook gelowige mense, mense soos ons, sien nie die Here se hand vanselfsprekend raak nie. Ook ons word opgeneem en meegesleur in die spreektaal van ons tyd. “Soos dit moet wees,” sê ons. En “toevallig”. En “per ongeluk”. Ja, en dalk selfs “soos die duiwel dit wou hê”.

Ons moet dus geleer word, soos kinders “dankie” en “asseblief ” leer, om ons taalgebruik te verander. Om te sê: “Die Here se hand was oor ons.” En: “Dank God! Ons het deur dit alles anderkant uitgekom.”

Dit behels natuurlik veel meer as woorde en sinne; dit vra ook die ABC van mooi kyk, van góéd sien, van agter die oënskynlike die Verborgene raaksien. Ja, om God se hand in alles wat goed is, te herken. Om voor en ná al die name wat ons so graag voor mense noem as ons dankie sê, aan die groot Naam die erkenning te gee wat Hom toekom.

Hiervoor het ons dié soort psalm se hulp nodig. Al is dit net om nogmaals te verneem: Dink ’n bietjie verder, Godskind! Dink aan waar alles vandaan kom.

U is die Here van môre en vandag, en goddank ook van gister. Halleluja!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen !

Petro ·

Baie dankie Barend Vos, jou boodskappe van die Vader is waarlik kosbaar!!

Susanna ·

Genadige Vader U voorsien altyd in al ons behoeftes. Vergewe ons as ons onregverdig en veroordelend is. U het ons lief al verdien ons dit nie! Verander asb ons land se leiers se bose gedagtes en dade in positiewe en opbouende besluite sodat ons almal saam die toekoms kan ingaan. Sodat ons hande kan vat en Suid Afrika weer kan opbou! Amen!

Nadia ·

Dankie Here God, dat U elke dag met ons is. Help ons om dit in ons besige lewens te onthou en U te ervaar. Help ons om tyd te maak vir U en U stem te hoor. Dankie Abba Vader

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.