Gedagte vir die dag: Onvoorwaardelike identifisering

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus het … vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes … Kom dan terug en volg My!” (Markus 10:21)

Die ryk jongman het ’n oorheersende passie gehad om perfek te wees. Toe hy vir Jesus Christus sien, wou hy soos Jesus wees. Ons Heer plaas nooit enigiemand se persoonlike heiligheid bo enigiets anders wanneer Hy ’n dissipel roep nie. Jesus se primêre oorweging is my absolute uitwissing van my reg op myself en my identifisering met Hom, wat beteken dat ek ’n verhouding met Hom het waar daar nie plek is vir enige ander verhoudings nie. Lukas 14:26 het hoegenaamd niks te doen met verlossing of heiligmaking nie, maar handel uitsluitlik oor onvoorwaardelike identifisering met Jesus Christus. Baie min van ons weet wat bedoel word met die absolute “weg” van onvoorwaardelike identifikasie met en totale oorgawe en onderwerping aan Jesus.

Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry … (Mark. 10:21). Wanneer Jesus so na jou kyk, vereis dit van jou om jou hart vir ewig los te skeur van trou aan enigiets of iemand anders. Het Jesus al op hierdie manier na jou gekyk? Hierdie kyk van Jesus verander, deurdring en neem gevange. Daar waar jy sag en buigbaar voor God is, is waar die Here jou só aangekyk het. As jy hard en wraakgierig is, as jy aandring om jou eie wil te volg, as jy altyd seker is dat die ander persoon eerder verkeerd is as jy, dan is daar volledige areas waar jou natuur nog nooit deur sy genade getransformeer is nie.

… “Net een ding kom jy kort … ” (Mark. 10:21). Vanuit Jesus Christus se perspektief is eenheid met Hom, met niks tussenin nie, die enigste goeie ding.

“ … Gaan verkoop alles wat jy het … ” (Mark. 10:21). Ek moet myself verootmoedig totdat ek niks meer en niks minder is as slegs ’n lewende persoon nie. In wese moet ek afstand doen van alle besittings, nie ter wille van my verlossing nie (net een ding kan my red en dit is absolute geloofsvertroue in Jesus Christus), maar om Jesus te volg.  “ … Kom dan … en volg My!” (Mark. 10:21) En dit is die pad waarlangs Hy gegaan het.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir die onbegryplike liefde en genade vir n mens…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.