Onwrikbare geloof lei tot volharding ná ernstige ontberings

Gertrude berei groente voor vir haar gesin se aandete. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Gertrude* lê bebloed op die grond, met ‘n skietwond in haar maag en haar voet wat klop van pyn waar twee koeëls haar getref het terwyl sy weggehardloop het. Sy lig haar kop uit die modder en kyk terug na die veld waarvandaan sy gevlug het. Dis ʼn afgryslike toneel… Om alles te kroon, het gewapende mans haar man doodgemaak, terwyl hul driejarige seuntjie toegekyk het en daarna spoorloos verdwyn het.

Gertrude (27) is een van talle Christene wat eerstehandse ervaring het van die ontsettende moeilike situasie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waar die geweld teen Christene wyd verspreid is en kerke voortdurend aangeval word.

Ernstige toename in geweld

Die geweld in die DRK het ʼn vernietigende uitwerking op die vervolgde kerk, met Islamitiese ekstremistiese groepe wat Christene in hierdie land met talle afgryslike gewelddadige dade teiken. Ondanks al die ontberings oorleef en volhard hulle egter in hul geloof – wetende dat God hulle nooit sal begewe of verlaat nie.

In hierdie land, en reg oor sub-Sahara Afrika, ervaar gelowiges uiterste vervolging en is die geweld teenoor Christene tans die ergste wat dit nog ooit was. Die toename in geweld word aangevuur deur die teenwoordigheid van jihadistiese groepe wat in ʼn toenemende aantal Afrikalande aktief is.

Die impak hiervan het meegebring dat ʼn verbysterende 15,5 miljoen mense teen die einde van 2021 ontwortel is, wat dit al moeiliker maak vir mense om ʼn bestaan te maak – en Christene is die jihadistiese groepe se vernaamste teiken.

Verwoestende aanval

Gertrude en haar man het in Augustus 2021 in die lande op hul plaas gewerk toe mans van die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF) uit die woud verskyn het en hulle aangeval het. “My man het ons seuntjie probeer beskerm en ek het in die bosse gaan wegkruip, maar ek het tydens die aanval ernstige beserings opgedoen omdat ek drie keer geskiet is – twee keer in my voet en een keer in my maag. Toe die derde koeël my in my maag tref, het ek al my krag verloor en op die grond neergeval.

“Toe ek ure later uit die bosse kruip, het dit tot my deurgedring wat gebeur het. Van waar ek was, kon ek sien hoe die ADF-militante my seuntjie vat en my man onthoof. Toe hulle my man doodgemaak het, het ek ook dood gevoel… Ek is deur vrees oorval en het al my oorblywende krag verloor. My eerste gedagte was aan die kinders en hoe ek voortaan vir hulle sou sorg,” vertel sy.

ʼn Moeilike pad vorentoe

Gertrude sit voor haar huis in die DRK. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Hierna het Gertrude se lewe uiters moeilik geraak. Behalwe vir haar hartseer, was sy nou ʼn weduwee met ʼn beperkte inkomste, permanente beserings en heelwat kinders om voor te sorg. Die ADF het in Mei 2018 ook haar suster vermoor, wat beteken dat sy nou ʼn enkelouer vir beide haar en haar suster se kinders was.

Toe sy eendag hoor dat daar weer ADF-rebelle in die omgewing was, het sy met haar kinders gevlug. Die volgende oggend toe hulle terugkeer, was hul bure dood. “Ek kan nie verstaan hoe hierdie mense net kan aanhou om ander dood te maak nie,” sê sy.

Rotsvas in haar geloof

Maar ten spyte van alles volhard Gertrude en bly sy standvastig in haar geloof in God. “God het my uit die gevaar gered en ek het hoop dat Hy altyd teenwoordig is. Dit is slegs God wat my die krag gee om die pyn te kan verduur. As ek ver van Hom af weggedwaal het, sou ek lankal dood gewees het.”

Danksy die getroue ondersteuning van hul vennote, kon Geopende Deure Gertrude bystaan met finansiële hulp om ʼn klein onderneming te begin. Sy het ʼn winkel oopgemaak waar die dorpsmense daaglikse benodigdhede kan koop, en sy is vasbeslote om ʼn sukses daarvan te maak. “Ek dank die Here vir hoe Hy deur my broers en susters in geloof aan my voorsien het. Julle gebede beteken ook ontsettend baie vir my en help my om sterk te staan,” sê sy.

Staan op saam met Afrika

Jy kan ook vandag saam met die vervolgde Kerk teen die grootskaalse en groeiende gewelddadige vervolging van Christene reg oor sub-Sahara Afrika opstaan. Klik hier om deur deel te word van Geopende Deure se meerjarige Arise Africa-veldtog en só die kerk in Afrika se voortbestaan te help verseker.

*Naam verander en verteenwoordigende foto’s gebruik vir sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.