Gedagte vir die dag: Paulus – ’n dienskneg se hart

Israel_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. (1 Timoteus 1:15)

Die Paulus wat hier vir Timoteus skryf, is anders as die man waarvan Handelinge 9 vertel. Laasgenoemde was arrogant en het heelhartig geglo in sy vendetta teen die Christene. Wat het die ommekeer in Paulus se lewe gebring? Hy het Jesus Christus op die pad na Damaskus ontmoet. Ek was ook ’n heel ander mens voor ek Jesus Christus in die klein Metodistekerk in Greytown ontmoet het. Sedertdien het my lewe ’n ander rigting ingeslaan en vanaf daardie dag was dinge nooit weer dieselfde nie.

Paulus se lewe het radikaal verander. God het ’n spesifieke plan en doel vir sy lewe gehad. Die Here sê vir Ananias: “Gaan, want hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:15-16). Soos ons weet, het Paulus deur baie beproewinge gegaan in diens van die Meester. In Handelinge 20:19 sê hy dat hy “die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge”. Hy was nie eintlik ontsien nie – ons lees in 2 Korintiërs 12 Paulus se siening oor die doring in sy vlees wat vir hom gegee is. Paulus het geglo dat hierdie doring in die vlees gestuur is om hom nederig te hou. “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie” (vers 7).

Ongeag wat hy moes deurgaan, het Paulus nooit geweifel in sy toewyding aan Christus of in sy diens aan die kerk nie. Hy sê vir die Korintiërs: “Alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win” (1 Korintiërs 9:19). Paulus het God in nederigheid gedien en derhalwe kon hy sê: “Deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Korintiërs 15:10).

My Vader, ek dank U vir die voorbeeld van u dienskneg, Paulus. Here, dit bemoedig my wanneer ek lees en mediteer oor die lewens van groot manne wat U met nederige trou gedien het. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Heer dat U ook vir my deur Paulus se lewe wil leer en lei….in nederigheid is ek dankbaar vir genade…Amen

Vonny ·

Amen!
God van wonderwerke.

Nou moet ouers òòk net leer
Om NIE hul kinders te leer dat
Paasfees nie n paas eier skatte jag is nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.