Lees Hosea 10:9-15
Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ’n nuwe land!” … Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. (Hosea 10:12-13)
Dié profeet gaan haal Israel se geskiedenis uit die argiewe en hou dit soos ’n spieël voor hulle op. Kyk daar! sê hy. En dáár, en dáár.
Hulle moet hierdie lewensles leer: Wat jy saai, sal jy oes. Hulle moet hoor (asof hulle dit nie baie goed weet nie!) hoeveel planne die Here al gemaak het om hulle uit hul eiegemaakte verknorsings te red. Hoe hulle hulle nie daaraan gesteur het nie. Hoe hy, hul Here, hulle keer op keer die moontlikheid van ’n nuwe begin aangebied het. Hoe hulle dit herhaaldelik verwerp het.
Wat bly daar nou vir Hom oor? Sy trane. Sy diep hartseer oor hulle wat aan Hom behoort en optree asof Hy nie bestaan nie.
Nou bestaan hulle ook nie meer vir Hom nie. Hy sal die muur van beskerming afbreek wat Hy om hulle gebou en deur alles heen in stand gehou het. Die vyande kan nou maar kom en kom vat wat hulle wil hê. Die Bewaarder van Israel gaan nou slaap. Hy is moeg gekeer, gedaan gesoebat.
Wat hulle gesaai het, sal hulle nou oes.
Ek weet nie wat om hierop te sê nie, en ek sal my liefs uit Israel se ellendige geskiedenis hou. Daar is genoeg in my eie geskiedenis en my kerk s’n om my oor te skaam. Nie ek of my kerk sal die aanklag van ons verlede oorleef nie. Ons het geen verweer teen die bewysbare minagting van ons Here se uitgestrekte hand nie, daardie rugdraai vir die tweede en derde en hoeveelste kanse.
Na wie toe sal ons nou gaan? Na Wie toe?
Jesus! Gesalfde van God: Ek, ons, smeek U!
Dankie my Here vir U genade daar sonder is ek verlore