Gedagte vir die dag: Sout

 stiltetyd-dooie-see-sout-ri-ya.jpg

Foto: ri_ya/pixabay.com

Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe. (Markus 9:50)

Sout se bydrae tot die ontwikkeling van die beskawing kan nie onderskat word nie aangesien dit verseker het dat voedsel vir lang tydperke vars gehou en daarom oor groter afstande vervoer kon word. Voeg die soutoorloë, soutbelasting en soutpaaie by, en ons verstaan sy rol in die antieke wêreld nog beter. In die Romeinse tyd het soldate dikwels hul loon in sout ontvang, en dus is die woorde “salaris” en die Engelse woord “sale” beide afgelei van die term wat vir sout gebruik word.

In die Bybel is daar meer as 50 verwysings na sout. Die bekendste is sekerlik toe Jesus sy dissipels in die Bergpreek met sout vergelyk het. Verder word die volgende ook uitgelig:

  • Sout maak dors.
  • Sout bewaar voedsel en voorkom bederf.
  • Sout voeg geur by kos.
  • Sout word verfyn wanneer onsuiwerhede verwyder word.
  • Sout was duur en kosbaar, veral in Bybelse tye.

Jesus herinner ons daarom hier in Markus dat sout goed is, maar Hy gee ons ook ’n waarskuwing. Sodra ons as Christene ons soutkwaliteit verloor, ons kosbare vermoë om onder andere te bewaar en smaak te gee, is ons nutteloos en goed vir niks.

Net soos sout onontbeerlik is vir ons dieet, is ons as u kinders onontbeerlik vir ’n gesonde samelewing. Dankie dat U my vandag weer herinner aan die unieke eienskappe van sout. Bron van my soutwees, maak my oë oop vir die baie geleenthede elke dag om sout te wees! Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.