Gedagte vir die dag: Staan sterk

woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore. Hy het nooit sonde gedoen en geen leuen vertel nie. (1 Petrus 2:21-22)

Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie. (Hebreërs 4:15)

Jesus is vir 40 dae en 40 nagte deur die duiwel in die woestyn versoek. Tog het Hy nooit ingegee nie. Hy kon die versoeking weerstaan en het sterk gestaan. Wat ’n wonderlike voorbeeld vir my en jou! Dit is hoekom die Here altyd weet presies waardeur jy gaan – Hy is immers aan dieselfde versoeking onderwerp. Hy is nie ’n God wat nog nooit op aarde was en gely het nie.

Nee, Hy het alles ervaar wat ek en jy ervaar; tog het Hy nooit gestruikel nie. Hy het sterk gestaan. Nee, ek weet nie waardeur jy op die oomblik gaan nie. Dalk is jy in die middel van ’n lelike egskeiding, dalk moes jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, of dalk het jy jou werk verloor. Onthou net dat die Here weet waardeur jy gaan. Praat vandag met Hom, Hy sal jou help. Daar is niks wat ons Here onkant kan vang nie. Hy was reeds daar en die druk het Hom nie oorweldig nie.

Die situasie waardeur jy vandag moet gaan, gaan dalk in die toekoms ’n belangrike bron van aanmoediging vir iemand anders wees. Jesus Christus sal jou hand vat en saam met jou deur die donker vallei stap. Wat ’n storie gaan jy nie hê om vir ander te vertel wat deur dieselfde situasie gaan nie!

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.