Gedagte vir die dag: Ten goede

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Lees Psalm 119:65-72

Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. (Psalm 119:67)

Dit is ’n dapper ding om te sê: Hy moes eers voel voordat hy gehoor het. Hy moes eers ’n duur prys betaal voordat hy tot sy sinne gekom het.

Natuurlik is dit ook ’n  skulderkenning. En om van jouself te  sê jy het gedwaal, om te erken jy is toe nie so oulik as wat ander mense sou dink nie – wel, dit vra moed.

Nou gaan dit baie beter, dankie, sê hy.  Noudat hy ná skade en skande teruggekeer het tot die Here se gebooie, nou weet hy opnuut: “U het aan my goed gedoen, Here …” (v. 65). Trouens, sê hy: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer” (v. 71).

Dit is tog veel meer as bloot die tuisgemaakte troos van mense wat alte maklik dinge sê soos: “Toemaar, niks is tevergeefs nie.” Of daardie goedkoop gunsteling: “Jy weet mos daar is ’n doel met alles.”

Nee, hier is veel eerder sprake van ’n duur les wat deeglik geleer is en waarvoor niemand anders die skuld kry nie, ook nie die duiwel of die noodlot nie. Hier sien ons die prentjie van ’n mens wat op alles terugkyk, vol berou én vol dankbaarheid. Ons sien hoe hy sy oë sluit, ons hoor hom bid.

En as dit nie was dat hy duisende jare voor Paulus geleef het nie, kon ons ons sy bidwoorde selfs só verbeel: Ek het U lief, Here. En ek weet dat U alles ten goede laat meewerk vir dié wat U liefhet.

Dit is u troue sorg, Here, in goeie en slegte tye, wat my laat leef. Ek dank U vir swaarkry se lesse.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Amen

Blomme

Amen