ToekomsVenster: Al nader aan God se wil

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.” – Hebreërs 10:36 (AFR83)

Dit is moeilik om nie die beste te wees nie. Ons almal streef daarna om uit te staan en in oorwinnaarsklere weg te stap. Ek dink nie dit is verkeerd nie. Ek dink God het ons gemaak om uit te styg en alles te wees wat Hy bedoel het vir ons om te wees, maar dis waar die klem moet lê, alles moet wees wat Hy bedoel het vir ons om te wees.

Nie alles wat ander mense wil hê ons moet wees nie. Selfs nie alles wat ons self wil hê ons moet wees nie. Ook nie wat ons dink God wil hê ons moet wees nie.

Die onderskeiding is fyn, maar uiters belangrik. Ek is die beste weergawe van myself wanneer ek in lyn met God se bedoeling vir my lewe optree. Om dit te onderskei neem somtyds baie lank. Ek dink dis deel van heiligmaking, naamlik om al hoe nader te kom aan God se bedoeling vir en met my lewe.

In die wêreld word mense wat eerste kom se prestasie luidrugtig gevier. Tweede en derde plek is nog goed genoeg. Ongelukkig is dit so dat daar ʼn vierde, vyfde en laaste plek moet wees.

As dit wat die Here aan jou toevertrou het jou eerste plek moet besorg, moet jy alles doen om dit te behaal. Dit kom nie vanself nie, dit kos harde werk en dissipline, vra maar enige atleet. Solank jy weet dat dit God se bedoeling vir jou lewe is en jy nie besig is om pa en ma se drome wat in hulle leeftyd nie gerealiseer het nie, nou te probeer uitleef nie.

Die meeste mense sukkel met die vraag of hulle goed genoeg is. Jy kom nie in aanmerking vir bevordering nie, jy ontvang nie ʼn prys vir goeie prestasie nie, jou naam word nie in die nuusblad opgeneem nie en jy klap altyd hande wanneer ander mense se prestasies gevier word. Heimlik wonder jy tog maar wanneer dit dan jou beurt is.

Met verdrag maak jy vrede daarmee dat jy nooit aan die beurt sal kom nie. Jy sukkel met ʼn gevoel van minderwaardigheid, maar sal dit nie erken nie.

Dit alles is so onnodig.

Weereens, my bedoeling is nie dat jy nie moet presteer as jy dit in jouself het om te presteer nie. Daar is geen verskoning vir luiheid en ʼn gebrek aan dissipline nie.

Die feit dat jy nie eerste kom en die applous ontvang nie, beteken nie dat jy minder werd is, nie waardevol is, nie ʼn verskil maak of dat jou lewe, getuienis, optrede, woorde en dade nie gevier moet word nie.

ʼn Pluimpie in die hoed vir jou getrouheid, deursettingsvermoë, toewyding, gehoorsaamheid, dissipline en oorgawe aan God en jou medemens.

ʼn Pluimpie dat jy besig is op plekke waar ander mense jou nie sien nie; agter die skerms, onopsigtelik, sonder vertoon en advertensie.

Jy kom eerste, jy is ʼn wenner. By God is daar nie tweede en derde plekke nie.

Hy sien jou raak en vier jou lewe en getuienis met oorgawe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Sjoe, Jannie, die Here praat deur jou direk met my.
Dankie vir jou bereidwilligheid en opoffering om hierdie stukkies elke dag te plaas. Die Here neem waar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.