ToekomsVenster: Alles is net genade

(Foto: Stephan Hauman)

“Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ʼn vonk wat opskiet.” – Job 5:7 (AFR83)

In Marokko het meer as 3 000 gesterf vanweë ʼn kragtige aardbewing.

In Libië het ʼn duiselingwekkende 20 000 mense verdrink weens oorstromings, terwyl nog duisende vermis word.

Dit is ontstellend om van hierdie dinge te hoor en dit op TV te sien.

ʼn Mens word intens bewus van jou eie nietigheid, asook die verganklikheid van die lewe.

Wanneer die storms woed, oorstromings alles onder water bedek of die aarde en geboue bewe, is die mens inderdaad weglaatbaar klein.

Die katastrofiese gebeure vra nie eers na jou getuigskrif, die jongste bankstaat, jou titel of kwalifikasie nie.

Daarmee beweer ek nie dat dit nie ʼn plek het in ʼn mens se lewe nie. Elke mens moet ooreenkomstig sy vermoë presteer. Dit is deel van ons lewensroeping. Lyf-wegsteek en lui wees is nie vir kinders van die Here ʼn opsie nie.

Die probleem is dat sommige van hierdie prestasies na mense se koppe toe gaan. Hulle ontwikkel ʼn aanstellerigheid en hoogmoed is aan die orde van die dag.

Somtyds word op ander mense neergesien omdat hulle nie dieselfde vermoë of status het nie. Dit is darem dom om so vernaam in jou eie oë te wees.

Onthou, alles, alles is genade en onverdiende guns alleen. Elke asemteug en elke tree is omdat die God van hemel en aarde dit in goedheid skenk. Dis wie Hy is, ʼn goeie God.

As die stroomversnelling mense meesleur, gryp jy enige hand wat na jou uitgesteek word en omgekeerd. Dan is oorlewing die hoogste prioriteit.

Almal wil leef, al gee ons somtyds voor dat ons so gereed is om te sterf.

Kom ons vergeet van die aanstellerigheid.

Ek sê nie dat ʼn mens nie jou vriende mag kies nie.

Inteendeel.

Maak egter ook vriende met iemand wat niks kan teruggee nie. Dit sal jou lewe oneindig verryk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.