ToekomsVenster: Anderkant die dood

(Argieffoto: pixabay)

“U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.” – Psalms 16:10-11 (AFR83)

Ek het die voorreg gehad om een van ons gemeentelede te begrawe. Afskeid neem is altyd moeilik. As die persoon jonk is, het ʼn mens die gewaarwording dat die persoon nog nie eens die lewe gesmaak het nie, en reeds moes sterf. Dit is inderdaad hartverskeurend.

Indien die persoon bejaard is, is dit die baie jare van saam leef en dink en doen wat die afskeid eweneens moeilik maak.

Daar is nie ʼn optimale en beste tyd vir sterf nie, veral nie vanuit die perspektief van hulle wat agterbly nie.

Ek dink aan die begrafnis. Die meeste mense wat dit bygewoon het, is tydgenote van die afgestorwene. Sjoe, terminologie laat ʼn mens eweneens in die steek. Dooie, afgestorwene, sterf, dood, en dan die lykswa en die kis, die graf of die verassing, daar is inderdaad niks aantreklik aan die dood nie.

Soos reeds gesê, die meeste van die mense wat die “afskeidgeleentheid” bygewoon het, is senior burgers, net soos ekself.

Jy word met meer gekonfronteer as die begrafnis – nog ʼn onvriendelike woord – van die persoon wat ons vooruitgegaan het.

Jy word gekonfronteer met jou eie sterflikheid, die vloeibaarheid van die lewe, die realiteit van jou eie veroudering en die onafwendbare afskeid neem van hierdie realiteit wat ons wêreld, aarde, huis, konteks, of wat ook al noem.

My bedoeling is nie om jou somber, negatief en depressief te maak nie, inteendeel. Ek probeer maar net skets wat ek self beleef by elke “afskeidsgeleentheid” wat ek waarneem.

God dank, daar is meer.

Daar is die wete dat hierdie lewe slegs die voorspel tot die ewigheid is, die ewigheid wat op ʼn interessante wyse nou reeds deel van ons wat glo se bestaan geword het.

Die wete dat die dood, as vyand, se mag gebreek is en dat die dood nie die laaste woord spreek nie.

Dan is daar ook die wete dat Christus se opstanding ons eie opstanding waarborg en dat dit ons sekuriteit is.

Die wete dat in die dal van doodskaduwee die Here, wat van my eerste lewensasem af betrokke was, steeds daar is.

Gedurende hierdie paar dae wil ek na aanleiding van 1 Korintiërs 15 ʼn paar gedagtes met jou deel wat perspektief bring wanneer daar oor die onafwendbare werklikheid gesels word.

Mag dit jou eweneens bemoedig.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Amen….ek hoef nie te vrees nie…Here Jesus U het die dood oorwin

Sê maar net ·

Amen. Dankie vir die Ewige Lewe, Jesus, vlekkelose Lam geslag vir ons! U het die finale offer vir ons sondes gebring. Vir ewig en altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.