ToekomsVenster: As God vir ons is

man-staan-teen-muur-met-bybel

(Foto: Ben White/Unsplash)

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. – 2 Kor. 4:8-9

Paulus se lewe was vol uitdagings. As jy wil kan jy ʼn opsomming daarvan lees in 2 Kor. 11.

Mens kan jou dit nie voorstel dat een mens só swaar kon kry nie. Wat dit nog meer uitsonderlik maak is dat Paulus se ontberinge verband hou met sy geloof en sy roeping om die Evangelie te verkondig. In die proses is hy gemartel, geoordeel en uiteindelik gedood.

Tog is dit dieselfde Paulus wat in die bekende Filippense brief sy lesers aanmoedig om nie hul blydskap in die Here te verloor nie. Nagenoeg 15 keer word melding gemaak van bly wees en blydskap hê. Sy bekende aanmoediging dat gelowiges oor niks bekommerd moet wees nie maar in alles God moet vertrou, is baie bekend. Gebed, smeking en danksegging sê Paulus hoort in die lewe van ʼn gelowige eerder as handdoek ingooi en wegkwyn.

Let op die bekende woorde in ons teksvers:

  • “Verdruk maar nie terneergedruk nie”. Terneergedruktheid, moedeloosheid en angstigheid is aan die orde van die dag.
  • “Oor raad verleë maar nie radeloos nie”. Gelowiges verkeer in bestaansnood en kla daagliks dat hulle nie weet hoe vorentoe nie.
  • Vervolg maar nie deur God verlaat nie”. Soveel gelowiges beleef hulself in ʼn woestyn van verlatenheid, soveel so dat hulle selfs van God verlate voel.
  • Op die grond neergegooi maar nie vernietig nie”. ʼn Ander vertaling lui iets soos: ons word op die grond neergegooi maar ons staan op en ons gaan aan met ons roeping.

Uiteraard vra ʼn mens wat Paulus se geheim dan was? As ons wat nie eers ʼn fraksie van Paulus se uitdagings beleef nie so geredelik wil handdoek ingooi, waar het Paulus sy krag vandaan gekry?

Natuurlik weet ons waar dit vandaan kom: ʼn onwrikbare vertroue in die God van die Bybel.

Daarom dat hy ook die bekende verse in Rom. 8:31-39 kan neerpen: “As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees?”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.