ToekomsVenster: As jy vandag sukkel met twyfel

strand-klippies-sonsopkoms

Foto: Christian Holzinger/Unsplash.com

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. – 2 Kor. 4:7

Covid-19 het ons wêreld op sy kop gedraai. Elke dag se syfers van nuwe infeksies en gepaardgaande sterftes maak ʼn mens sommer baie depressief. Rondom jou sterf bekendes en die dood kom onheilspellend naby. Jy raak effens paniekbevange en moet jouself voortdurend herinner aan dit wat jy weet en wat vasstaan.

Al die goed kan daartoe bydrae dat ʼn mens ernstig begin twyfel. Waar is God en waarom tree Hy oënskynlik nie toe nie? Is Hy kwaad vir ons en wat het ons gedoen? Steur God Hom doodgewoon nie meer aan ons nie of bestaan Hy dalk nie werklik nie?

Eerlikheid oor ʼn mens se worsteling bring jou veel verder as om vir jouself en ander te jok. As daar iemand is wat gedurende die bykans twee jaar wat verby is nog nie een keer getwyfel het nie, is dit inderdaad merkwaardig en geseënd. Ek tel nie onder die uitgesoekte groep nie.

Gedurende hierdie week wil en ʼn paar belangrike sake noem wat ʼn mens ietwat kan troos en weer op koers kry.

Die eerste vandag, twyfel is nie vreemd aan die Bybel nie. Ons vind die ruuste eerlikheid in die Bybel, nie pretensie dat alles reg is nie. God waardeer eerlikheid en is daarmee nie ongemaklik nie. Hy is groter as die twyfelvrae wat in ons gemoed lewe.

  • Moses is by geleentheid so oorhoops met die ongehoorsame en hardnekkige volk van die Here dat hy wil handdoek ingooi. “Neem eerder my lewe” sê hy vir die Here, “maar so kan ek nie aangaan nie”. (Numeri 11:14-17)
  • Elija kruip onder ʼn besembos weg en wens dat hy kan sterwe omdat hy sy lewe nie meer seker is nie. (1 Kon. 19:4)
  • Jona is ongemaklik met die genade wat God aan Nineve betoon het en gaan onttrek in ʼn hopie selfbejammering. (Jona 4:1-11)
  • Jeremia, soos Job verwens sy geboortedag. (Jer. 20:14-18
  • Jesus bid dat die beker by Hom sal verbygaan. (Matt. 26:39)
  • Paulus getuig daarvan dat hy die hoop op die lewe verloor het. (Hand. 27:27-44)

As jy vandag sukkel met twyfel is jy ten minste in goeie geselskap. Ons geloofshelde het ook somtyds voete van klei gehad. Die son sal weer opkom. Die nuwe dag breek plotseling aan.

Vertel God vandag wat in jou hart lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie dat ek aan uitsien na elke dag…U bederf my met genade en sorg..Amen

OW ·

So waar Yvonne.Alles is net genade uit die hand van ons Meester,Jesus Christus,die God van Israel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.