ToekomsVenster: Bou saam aan ’n hoopvolle toekoms

(Foto: Shameersrk/Pixabay)

“Die stuk van bokant die Perdepoort af is deur die priesters herstel, elkeen die gedeelte regoor sy huis. Sadok seun van Immer het die volgende stuk, dié regoor sy huis, herstel.” − Nehemia 3:28-29

Ek is saam met my ander helfte in Skukuza. My engel het met onderwysopleiding te doen en sy kuier hier by Esmarie Rohr, ʼn juffrou vir graadeentjies, met ver in die dertig jaar ervaring en wat tegnologie op ʼn asemrowende manier integreer in haar klas.

Ek tel in die omgewing van 30 lewende lyfies, maar wanneer juffrou praat word daar geluister. Juffrou gebruik die volle spektrum van wat tegnologie kan bied en die kinders is ewe tuis daarmee.

Voor in die klas is daar ʼn interaktiewe witbord en ʼn spesiale pen laat wonders gebeur. Juffrou Rohr laat die skooldag naatloos verbygaan en voor die kinders weet, het hulle taal en wiskunde, robotika en kuns bedryf.

Dié kinders, skaars ouer as ses, tel vernuftig in gelyke en ongelyke getalle. Die juffrou is saam met hulle en hulle is saam met die juffrou elke oomblik van die skooldag. Wanneer juffrou die volgende aktiwiteit aankondig ril die kinders van lekkerkry.

Juffrou begin by die nuus van die dag. Bekyk die weerkaart saam met die kinders, vertel en verduidelik van die vulkaan digby Italië wat uitgebars het. Prentjies laat die kinders na hul asem snak. ʼn Klein robot, met die naam Mini Muis, word hoeka geprogrammeer om die kinders se opdragte uit te voer. Twee tree links en drie vorentoe. Draai regs en kom by jou bestemming.

Dan doen die jongklomp ʼn PowerPoint-voorlegging oor die storie van die dag en so gaan die dag verby.

My kleinkinders sê hoeka Oupa moet weer babaklas toe, maar as ek so na die jongklomp luister voel ek of ek niks weet nie.

Wat my beïndruk is die juffrou – haar energie en haar voorbereiding is ongelooflik. Sy moes ure aan voorbereiding deurgebring het.

As alle onderwysers so met die leiers van môre op pad is, kan ons weer ons koppe optel.

Pouse vra een outjie in Engels of ek moeg is. Hy bied vir my ʼn bietjie van sy water aan. Die ander druk die afgetrede predikant asof ons familie is en raak aan sy nou reeds grys baard.

Ek skep moed. Ons kan dit maak. Ek sal dit dalk nie sien, maar dié jongklomp en hulle juffrou bou ʼn splinternuwe toekoms.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.