ToekomsVenster: Christene bly nie lê nie

(Foto: Stephan Hauman)

“Jesus sê vir haar: ‘Jou broer sal opstaan’.” – Johannes 11:23 (AFR53)

In die TV-reeks waarna ek gister verwys het beleef die hoofkarakter terugflitse uit sy kinderdae. As jong seun val hy van sy fiets af en bejammer homself. Sy wyse oupa stap hom tegemoet met die woorde: “Dis goed om te val, want dit leer jou hoe om weer op te staan”.

Niemand hou van val nie, niemand hou van slegte ervarings nie. Ons wil graag hê dat die lewe sonder probleme en uitdagings sal verloop. Dit is egter nie realisties nie.

In elke mens se lewe is daar tye van swaarkry en uitdagings.

Somtyds lyk dit asof jy nooit weer gaan opstaan nie.

Die gebeurlikheid mag jou selfs vir ʼn tyd totaal onderkry tot die besef by jou groei dat jy ʼn kwaliteit keuse sal moet maak om weer op te staan.

Niemand bejammer jou as jy bly lê nie.

Aanvanklik is daar simpatie, later word dit ongeduld.

Aanvanklik is daar ondersteuning, later raak die mense weg.

Aanvanklik is jy omring deur mense, later bly jy alleen agter.

Jy het nie ʼn keuse nie, jy moet doodgewoon weer opstaan.

Val leer ʼn mens om weer op te staan. Val leer ʼn mens ook om te weet hoe om op te staan.

Toegegee, jy mag professionele hulp nodig hê. Dit is volwasse om daarna te vra.

Aan die einde van die dag kan net jy besluit om op te staan. Iemand anders kan nie namens jou opstaan nie.

God belowe dat sy genade genoeg is. Hy los ons nooit alleen nie. As jy na Hom roep, is Hy daar.

Val is nie sleg nie, dis net sleg as jy bly lê.

Christene bly nie lê nie.

Nie as die Woord van God die waarheid is nie.

Sy beloftes en Gees sal jou toerus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MARELIZE ·

Dis nie altyd maklik nie. Soms wil ek eerder net uitklim as weer probeer

Yvonne ·

Here dankie dat ek kon opstaan na elke val….U krag en genade tel my op..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.