ToekomsVenster: Christus het ons werklik vrygemaak

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ʼn slawejuk laat indwing nie.” – Galasiërs 5:1 (AFR83)

Ons kon vir ʼn paar dae wegbreek. Ek het weliswaar Pinkster waargeneem by die Vredelust-gemeente in Bellville. Iewers darem my voete in die koue water gehad, maar die pragtige Kaap intens beleef.

Iets wat my opgeval het is die baie waarskuwings wat opgerig is. Daarmee sê ek nie dat dit nie nodig is nie. Ek verstaan dat dit terwille van die veiligheid van vakansiegangers en inwoners so gereël word. Tog het dit my in oordragtelike sin laat dink aan hoe ek tradisioneel die geestelike lewe verstaan het. Een van jy mag nie, en as jy dit doen, sal jy die gevolge moet dra.

Ons woon in ʼn pragtige kompleks met ʼn uitsig oor die kanaal by Century City. Hier is ʼn stap of drafroete uitgelê, afhangend van hoeveel energie jy het en dit is mooi verby.

Ons kompleks is funksioneel, netjies, modern en skoon. Daarvoor is ʼn mens dankbaar, die feit dat jy betaal om hier te bly ten spyt.

Oral egter is daar notas wat jou waarsku om jou te gedra, anders is daar boetes betaalbaar.

Jy mag geen gaste hier ontvang sonder vooraf reëlings nie, anders, ja, ʼn boete.

Jy mag nie die trappe gebruik nie, sou jy dit waag, ʼn boete.

Jy mag geen klere op die balkon uithang om droog te word nie, anders nog ʼn boete.

Jy mag nie te veel raas nie, jy mag geen (daarmee het ek nie ʼn probleem nie), kan jy dit glo, dagga op die perseel gebruik nie anders, ja jy raai reg, ʼn boete.

Jy mag nie rook nie, glad nie, jy mag nie, jy mag nie, jy mag nie… op las, die “body corporate”.

Nêrens iets wat sê, geniet jou verblyf, haak ʼn bietjie uit, vergeet van die baie verantwoordelikhede en kom tuis in die skone Kaap nie.

Ja, soos reeds gesê, ek verstaan die reëlings en dit is nie vir my ʼn probleem nie.

Dit skep ʼn veilige ruimte wat almal se regte en voorregte beskerm.

Aan die begin van my eie geestelike reis het ek my verhouding met die Here ook so beleef, jy mag nie, jy mag nie, jy mag nie, anders is daar gevolge.

Later sou ek leer en verstaan dat my verhouding met die Here deur vryheid en vreugde gekenmerk word.

Dit is ʼn aangename ruimte met warmte en aanvaarding.

Dit is ʼn ruimte wat daarmee reken dat ek nog nie gearriveer het nie, dat ek somtyds sukkel om die regte ding te doen, dat ek nie altyd in oorwinning leef nie, en tog sê die Vader: “Welkom hier, geniet dit”.

Juis daardie warmte maak dat ek nie uit huis uit onverskillig en traak-my-nie-agtig wil leef nie.

Is jy nog by ʼn jy mag nie-verstaan van die Vader? Is al wat jy wonder wanneer die Here jou gaan bykom?

Die hoogste prys is reeds betaal. Ons kan nou leef in die volle sin van die woord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.