ToekomsVenster: Dankbare mense bid ook

(Foto: Ben White/Unsplash)

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar…” − Kolossense 4:2 (AFR83)

In die teksvers word gebed, waaksaamheid en dankbaarheid met mekaar in verband gebring. ʼn Mens sou kon sê dat dankbare mense ook mense van gebed is.

Mense van gebed is eweneens dankbare mense want hul weet waar hul hulp vandaan kom, immers, gebed is ʼn uitdrukking van afhanklikheid.

Waaksaamheid en gebed het alles met mekaar te doen. ʼn Waaksame persoon beoefen gebed, terwyl gebed ʼn vorm van waaksaamheid is.

Die Boodskap-vertaling vertaal waaksaamheid met gedissiplineerd so:

“Bid gereeld en gedissiplineerd. Sê ook vir God dankie vir alles wat Hy vir julle doen”.

Interessant hoe verskillende vertalings verskillende aksente lê. Om ook wat gebed betref gedissiplineerd te wees, is eweneens belangrik. Daar is soveel goed wat meeding en appèl maak op ons tyd en aandag.

Gebed is volgens my ʼn baie persoonlike aangeleentheid. ʼn Mens kan nie reëls neerlê oor hoe dit moet gebeur nie.

Dat gebed sonder geloof nutteloos is, is tog duidelik uit die Bybel maar dat ʼn mens moet sit, staan of kniel is ʼn persoonlike saak. Of jy in die oggend of in die aand, met middagete of in ʼn ander tydgleuf bid is ʼn persoonlike saak, om die waarheid te sê, Paulus sê onophoudelik.

Gebed is ʼn ingesteldheid, dit is ʼn geloofhouding, dit is hoe ons ons verhouding met God beleef; kommutatief, dialogies, interaktief, tweerigting, lewendig en energiek.

Gebed is die ruimte waarin ʼn mens jou dankbaarheid verwoord. Jou lewe is die konkretisering van die dankbaarheid. Jou daarwees vir ander en hul nood is ʼn uitdrukking van dankbaarheid.

Om terug te keer na waaksaamheid, die Bybel leer ons dat die duiwel soos ʼn brullende leeu rondstap en op die uitkyk is vir mense wat hy in sy ongenaakbare kloue kan kry.

Daarom waarsku die Bybel ons om nie vir die duiwel ʼn vashoukans te gee nie. Hy is geslepe en weet net waar die vashouplekkie in elkeen van ons se lewens mag wees.

Uiteindelik sê die Bybel volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen.

Die pad na die hemelstad is styl en somtyds onvriendelik. Mag ons volhard op die pad waartoe die Here ons geroep het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir die voorreg om te kan en te mag bid…niemand kan dit van my wegneem nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.