ToekomsVenster: Deur die bril van Sy bloed

(Foto: Ameen Fahmy/Unsplash)

“Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.” – 1 Johannes 5:6 (AFR83)

Daar was ʼn tyd in my lewe wat ek die Here gevrees het. Ek was bekommerd dat Hy gedurig op die uitkyk is vir alles wat ek verkeerd doen en gereed staan om pakslae uit te deel.

Ek is so bly dat daardie prentjie van God radikaal verander het. Ek het Hom leer ken as ʼn liefdevolle en genadige God, wat empatie het met my as mens en die talle uitdagings waarmee ek op ʼn daaglikse basis konfronteer word.

Ek kon iets begin verstaan van die waarheid dat God na my kyk deur die bloed van Jesus – soos Louis Britz sing – “Deur die bril van sy bloed”.

 

U kyk na my en alles is goed

U sien my deur U Seun se bloed

Die verlore seun het klaar gesoek

Sy naam is in die Lewensboek

 

U kyk na my

Deur die bril van Sy bloed

Deur die bril van Sy bloed

Deur die bril van Sy bloed

 

My status voor God het radikaal verander, van sondaar wat verdien om hel toe te gaan na geregverdigde. Van verlore na gevind, van soekend na berustend en van vrees na vertroue.

Wanneer ʼn mens God in al sy genadige ontferming raaksien, begin jy ook anders na die mense rondom jou kyk. Soms wil ons genade en ontferming beleef maar ons gun ander dit nie. Ons wil nie dat die straf van God in ons lewens voltrek word nie, maar wil hê dat Hy in felheid op ons naaste sal toeslaan.

Ons verhoor en veroordeel mense terwyl dit aan die genade ontbreek. Op ʼn dag skakel ʼn dame my en vra dat ek standpunt inneem teen ʼn sekere segment in ons samelewing. Sy vertel my toe dat dit ons roeping is om ander mense op hul sonde te wys.

Ek is nie seker dat dit is waartoe die Here ons roep nie. Ek vermoed veel eerder dat Hy ons vra om ander van sy radikale liefde en genade te vertel en die oordeel aan Hom oor te laat. Ek weet dat dit nie sy wil is dat enige mens verlore gaan nie, maar dat almal gered sal word want dit is wat die Bybel my leer. Ek glo dat ek die Heilige Gees kan vertrou om my medemens, in die mate waarin dit nodig is, van sonde, oordeel en geregtigheid te oortuig.

Hoe voel jy daaroor?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U na my kyk deur U bloed …verhelder ook so my oe as ek om my kyk….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.