ToekomsVenster: Die aarde is Sy handewerk

(Foto: Steven Weeks/Unsplash)

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het. – Genesis 2:7

Ons gesels hierdie week met die Bybel as ons vertrekpunt oor die gedagte wat by God Drie-enig opgekom het naamlik “kom ons maak mense”.

God is aan die werk, iets spesiaals word gedoen, ons word gemaak, gevorm, geskep, uit die stof van die aarde.

Die mens en die aarde staan in ʼn besondere simbiotiese verhouding. Wie die aarde verniel, verniel homself en ander. Wie die aarde minag, minag homself en ander. Wie willens en wetens die aarde besoedel en verwoes het geen selfrespek of gesonde selfbeeld nie.

Ons is aangewese op die aarde. Ons kom daaruit en ons gaan daarheen terug, sê die Bybel. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. – Genesis 3:19

Ek wil ʼn ongemaklike maar kosbare oefening voorstel, iewers waar jy alleen en ongestoord kan uiting gee aan jou gevoelens.

Kry jou lê iewers op die grond, goed, vloeroppervlakte is in orde maar wat ons sou verstaan wanneer ons sê “gaan lê op die grond”. Haal diep en gemaklik asem en kom tot rus. Voel nou hoe jy met die grond saamsmelt, voel hoe daar ʼn verhouding bestaan tussen jou en die aarde.

Dit is ʼn liefdesrelasie. Die grond sorg vir jou sedert jy jou asem gekry het, die grond voed jou, dra jou, beskerm jou en help jou. Die grond hou jou vas, die grond is naby aan jou.

Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. – Genesis 3:23

Spreek jou waardering teenoor die grond uit. Dit maak snaaks voel maar dit is mos net jy. Ervaar hoedat die grond sy arms om jou vou, jou vashou, troos en warm maak. Bly daar vir solank as wat jy voel dit sinvol is. Staan dan op met ʼn nuwe waardering vir die grond, die stof, wat ononderhandelbaar deel van jou en jy deel daarvan is.

Dank God vir die aarde, dit is sy handewerk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.