ToekomsVenster: Die belydenis van Petrus

Argieffoto

Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?” Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.” “Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”
Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!” Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel. – Markus 8:27-30

Dis ʼn beslissende vraag en die antwoord maak die verskil tussen lewe en dood. Jesus se vraag is van die uiterste belang en elke mens moet hierop ʼn antwoord formuleer. Dit is nie genoeg om Petrus net na te praat nie. Dit moet ʼn hartsoortuiging wees. Dit moet jou lewensrigting bepaal. Dit moet van jou besit neem en jou hele lewe rig.

Dis nie dat mense nie ʼn mening gehad het oor Jesus nie. Dat Hy ʼn uitsonderlike persoon was, was vir almal duidelik. Daarom dat party Hom vir Johannes die Doper of Elia aansien. Mense wat ʼn besliste invloed op hul tydgenote gehad het. Mense wie se lewe en optrede getuig het van die krag van die Gees. Maar net mense aan die einde van die dag. Mense wat self ook ʼn Middelaar nodig het. Daar was juis die verwagting dat Elia die koms van die Messias sou vooraf gaan.

Johannes die Doper het mense onbeskaamd tot bekering geroep. Hy het nie altyd takt aan die dag gelê nie. Hy spreek die Fariseërs onbeskaamd en sonder reserwe aan.

Matt 3:7 – Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

Johannes het nie tyd gehad vir geveinsdheid nie. Hy sê ”Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi”

Van Jesus het hy egter gesê: “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.”

Een groter as Johannes is hier. Groter as die tempel, groter as Salomo, groter as Moses. In Johannes se eie woorde “Ek moet deur U gedoop word”. Doop is immers met die oog op bekering. Doop is die aflê van die sondige natuur en die opneem van God se geregtigheid. Jesus neem egter deur die doop daad die ongeregtigheid en sondelas van hierdie wêreld op Hom.

Wie sê julle is Ek? Een groter as Elia. Die Messias-koning, die kneg van die Here, die Spruit van Dawid, die Loot, Die Lam, die Here.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.