ToekomsVenster: Die groot oorgang

(Foto: Javon Swaby/Pexels)

“Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.” – 2 Korintiërs 5:5 (AFR83)

Ons dink na oor die dood, ja, ons het al ver gevorder hierdie week en besluit dat die woordjie dood gebrekkig is. Dit mag beskrywend wees van sommige spesies soos vir diere dalk, maar dit is nie ʼn raak beskrywing van mense wat na hul nuwe en beloofde bestemming vertrek het nie. Sulke mense is nie dood nie, hulle is net op ʼn ander plek. Tans onbereikbaar, maar niks minder lewend as ons wat agtergebly het nie en tog, anders lewend.

Paulus beskryf ʼn oorgang wat moet plaasvind voordat ons kan tuiskom by die nuwe bestemming. Hy sê dat God ons daarvoor voorberei.

Paulus vat dit raak as hy soos ons sê: “Ag, kan die nuwe gedaante nie sommer oor ons kom en die ou gedaante verander nie”.

Die oorgang klink baie bedreigend en ons hou nie van vreemde ervarings nie. Dit skep ʼn gevoel van onsekerheid en maak ons bang. Ons hou nie daarvan om bang te wees nie.

Kan die Here ons nie help en die oue met die nuwe vervang sonder die belewing van trauma nie, die trauma van ons eie oorgang.

Ons sien mense op siekbeddens, ons besoek hulle in hospitale, ons beleef die kruheid van verskeie tipes ongelukke wat met mense gebeur, ons sien die stukkend, die seer en die wonde en ons vrees.

Jesus sê: “Ek is daar”. Hoe hy dit draaglik maak sal ons eers beleef as dit ons beurt is. Hy belowe ons sal nie alleen wees nie. Hy belowe dat Hy ons hand sal vashou en ons nie in die steek sal laat nie.

As jy mense wat reeds by hul bestemming is sou kon vra hoe die oorgang verloop het, sal hulle sê dat die Here daar was.

Immers, ons was al almal siek, maar het aan die anderkant uitgekom omdat die Here gehelp en genees het.

Die Here help en genees ook wanneer dit by hierdie oorgang kom. Hy berei ons voor, Hy begelei ons, Hy is enduit by ons.

Sjoe, dis moeilik om oor hierdie dinge na die dink. Die Bybel gee nie eksplisiete inligting nie. Niemand het al teruggekeer en presies vertel hoe dit was nie.

Hier en daar is daar iemand wat sê dat hulle aan die anderkant was, hul bestemming bereik het en tog “teruggekeer” het.

Is dit eg, geloofwaardig, of aanvegbaar? Dit moet ek toegee, ek het nog nooit gehoor van iemand wat sg. teruggekom het en wat getuig het dat dit aaklig en ondraaglik was aan die anderkant nie, inteendeel.

Lees gerus wat Paulus skryf oor die oorgang en wat daarby betrokke is. Hy kontrasteer die teenwoordige met die toekomstige.

Die een is tydelik en die ander ewig.

Die een is verganklik en die ander onverganklik.

Die een is vlees en die ander is gees.

Die een is van hier en die ander is van daar.

Die een is gebroke en broos, die ander is heel en volmaak.

Ek is so dankbaar vir hierdie hoofstuk in die Bybel.

Paulus help ons sommer baie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.