ToekomsVenster: Die Here bring vrede

seemeeu-vrede

Foto: Vic_Padilla/Pixabay.com

“Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut’. En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar’.” – Die Openbaring 21:5 (AFR83)

Ons leef in ʼn baie ontstellende wêreld. Iewers sê die Psalmdigter dat as hy vlerke gehad het, hy na die woestyn sou vlieg waar niks en niemand hom in die hande kan kry nie.

“Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ʼn duif gehad het, sou ek wegvlieg en ʼn woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly.” – Psalms 55:7-8 (AFR83)

Daar is net te veel hartseer en ontwrigting op aarde en dit lyk of dit toeneem in intensiteit. Dalk is dit die tekens van die tye, immers, elke dag is ʼn dag nader aan die wederkoms. Dalk is dit die media wat ontstellende tonele van grusame geweld in ons sitkamers indra. Dis moeilik om jou eie emosies te beskerm, die goed gee af aan ʼn mens. Dit kan tog nie anders nie.

Die verwoesting in die Midde-Ooste is die nuutste byvoeging in ʼn reeds onderstebo wêreld. Iemand het opgemerk dat Gasa ʼn begraafplaas vir kinders geword het. Meer as 4 000 kinders het reeds die lewe gelaat. Honderde is vermink en dra die tekens van ʼn oorlog waarvoor hulle nie gevra het nie.

Ek reken dat die grootste deel van die samelewing daar, soos in Israel, in vrede en harmonie wil leef. Hoe oorleef ʼn mens in ʼn konteks waar, soos ons op TV sien, missiele dag in en dag uit die lugruim skeur en stofwolke die lug instuur. Hoeveel mense word nie onder die puin begrawe nie?

Ons is as gelowiges sensitief na een kant toe. Ons vind ʼn godsdienstige en Bybelse motivering vir die geweld. Argumente soos dat Israel die reg het om homself te verdedig is uiteraard nie sonder meriete nie.

Elke saak het twee kante. Gelowige Palestyne is vasgevang in ʼn magspel wat oënskynlik geen einde het nie. Burgers aan beide kante betaal ʼn ontsettende prys, maar waarvoor hulle nie gekies het nie.

Ek vind dit moeilik om die God van die Bybel by hierdie gebeure te betrek. Geweld en God kan nie in een asem gebruik word nie behalwe dat dit nie God se wil kan wees nie.

Mag die Here kragtig ingryp, ware bekering bring in die harte van mense wat die besluite maak.

Mag die Here vrede bring in die Midde-Ooste.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Bly weg van politiek af Jannie. Hiers punte wat jy dalk reg bedoel, maar wat nie reg uitkom nie. Miskien ook vanwee jou beperking op hoeveelheid woorde. Ja, dis aktueel, maar los dit liewers uit.
Die Here se raad is volmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.