ToekomsVenster: Die hier en nou

(Foto: Dapo Oni/Unsplash)

“Luister hier! ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ‘n Ander deel daarvan het op ‘n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” – Mark. 4:3-8

Dit is tog duidelik dat Jesus nie eintlik hier net oor grond praat nie, maar met mense. Hulle is horende doof en siende blind. Jesus wil hul oë oopmaak. Jesus skryf sy gehoor nie af nie, Hy verkleineer en beskaam hulle nie. Hy wil hulle rehabiliteer en herstel na God se oorspronklike bedoeling.

Jy het seker al gehoor dat daar verwys word na “human beings” en “human doings”. Die Engels vertaal die gedagte mooi.

Ons het deurmekaar geraak met God se bedoeling vir ons lewens. Dit beteken nie dat ons onproduktief deur die lewe gaan nie, in teendeel, maar dit beteken wel dat ons vanuit ʼn ander denkraamwerk met die lewe besig raak.

Ons menswees gaan in die doen gedeelte van die frase op. Ons waarde lê in dit wat ons doen. Ons dink so oor onsself en reken ander mense dink ook so. Doen sluit al die meganismes wat ons ontwikkel het om aanvaarbaar, geliefd en veilig in hierdie wêreld te wees in.

Doen is wie ons geword het maar dit is waarskynlik myle verwyderd van God se oorspronklike bedoeling met ons.

Dit het ons net mooi ʼn leeftyd geneem om ʼn bepaalde manier van lewe en oorlewe te ontwikkel. Dit het so eie, so deel van ons geword dat ons dink dat dit inderdaad gepas en selfs Goddelik is.

Die vraag is waarom ons in die woorde van Ps. 139 steeds onrustig, onvergenoegd, onveilig en ongewaardeer voel?

Waarom wy ons soveel van ons energie aan kop bo water hou?

Die Psalms se digter se elke nuwe oggend het sy eie kwota moeilikhede gebring. Hy weet nie meer hoe vorentoe nie.

Paulus sukkel met dieselfde krisis. Wat hy wil, dit doen hy nie. Wat hy nie wil nie kom altyd weer na vore.

Hoe vorder ʼn mens dan op hierdie pad, die reis na binne sodat jy kan ontdek wie en wat daar is?

Dit begin deur ʼn lewenshouding van hier en nou te kweek, die oomblik bewustelik aan te gryp en jouself te dissiplineer om vanuit dit wat voorhande is te lewe.

Gister is water onder deur die brug en môre is ʼn hersenskim. Al wat ons het, is die oomblik.

Ons gedagtes maal met gister en môre as die agenda. Die gedagtes doen niks anders as om ons te ontstig en te ontmoedig nie. Die grootste persentasie van ʼn mens se gedagtes is nonsens. Dit word gedryf deur “wat as”. Dit is egter nie sinvol om so te lewe nie.

Wanneer jou binneste onstuimig word, haal diep asem. Word bewus van jou omgewing. Waardeer wat jy sien. Fokus vir ʼn oomblik op iets anders. Herhaal ʼn frase soos “Jesus is die Here” en kom terug na die nou.

Jy sal ervaar dat jy nuwe energie, perspektief en moed kry.

Leer om vanuit die hier en die nou te lewe.

Keer terug na “human being” wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.