ToekomsVenster: Die son vat dooierus op die horison

(Foto: Stephan Hauman)

Ek weet jy is effens jaloers, maar ons kuier nog ʼn paar dae by die see. Die Here se genade is groot en ons het bykans elke dag ʼn perfekte dag. Lieflike sonskyn, effense windjie wat waai, die hemelruim so blou soos dit kan kom. Dit is asof die Here se guns op ons is vir hierdie paar dae en ek is diep, diep dankbaar en oorweldig.

Sonsopkoms is ʼn merkwaardige verskynsel. Vanoggend was weer so ʼn geleentheid

Dit het kompleet gelyk of die son dooierus neem op die horison, ver op die rant van die nimmereindigende water.

Dis amper asof die son die wegspring-bevel afwag. Op jou merke, gereed, gaan groot son. Skyn die mense uit hul beddens, maak harte warm, nooi mense uit om die lewe as gawe van God te omarm.

Groot, rond, verblindend. Gloed waarin ʼn mens nie kan kyk nie. Goudgeel. Soos genade op sy helderste.

Die Bybel praat van die Son van geregtigheid met genesing in sy strale. Dit bokspring in die woorde van Maleagi oor die lewe wat wag.

Net soos die aardse son, kan jy in hierdie Son nie kyk nie. Dit, Hy, verblind, oorweldig, nooi uit en hou op ʼn afstand.

Nooi uit tot dans in sy glans, maar hou op ʼn afstand omdat dit heilig tot in die duisendste mag verteenwoordig.

Die vrees van die Here, vir die Here, genuanseerd en reg gelees, is die begin van alle wysheid, sê die Bybel. Ons kan dit nie gewoond raak nie, net lief raak. Moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar bly in ootmoed staan voor sy Goddelike almag.

Dan kry die son momentum. Jy kan dit byna sien beweeg.

Die stil donkerte op die watermassa word stelselmatig opgehef.

Die onvoorspelbaarheid van die nag moet pad maak voor die aandrang van die son.

Maak pad vir die groot Koning, roep die son. Sprei die pad met eerbewyse. Buig voor sy heilige verskyning.

Ek buig oorweldig voor die Son. Ek verwelkom sy gloed, perspektief, lig en geleenthede.

Kom Son van geregtigheid, ek buig voor U, Heer.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.