ToekomsVenster: Die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes

suurdeeg

Foto: Phickle.com

Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad. Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie, toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?” “Twaalf,” sê hulle vir Hom. “En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?” “Sewe,” sê hulle vir Hom. Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?” – Markus 8:14-21

Suurdeeg is ʼn kommoditeit waarmee meeste van ons bekend is. Brood of vetkoek bak kan nie plaasvind sonder suurdeeg nie. Ek onthou dat Ouma ʼn suurdeegplantjie gehad het wat op een of ander manier aan die lewe gehou moes word. Later het ek gesien hoe my ma koekies suurdeeg by die supermark koop. Ek is nou lekker dom maar weet ʼn mens kry ook suurdeeg in ander vorms, korreltjies en wie weet wat nog.

Die bedoeling is dat die suurdeeg sy weg vind deur die deeg wat voorberei is en dan die deeg laat rys. ʼn Bietjie deeg word met verdrag baie. Dit word lig en vrolik en gee aanleiding tot heerlike gebak. Ek weet ook ʼn mens gooi nie in alle gebak suurdeeg nie. Koeke kry bakpoeier. Nou ja, daarmee het ek my eie gebrek aan kennis oor bak en brou deeglik te kenne gegee.

Suurdeeg werk ongemerk, stadig, maar berekend. Jy kan die pad van suurdeeg in jou gebak nie volg nie. Jy knie die deeg af en laat dit staan net om nou nou by ʼn nog groter lomp deeg te kom. Dit weet jy, suurdeeg werk. Jy kan dit nie keer nie.

Jesus vergelyk die optrede van die Fariseërs met suurdeeg. Dis stadig maar beslis. Dis ʼn baie raak metafoor vir die negatiewe en afbrekende werk van die duiwel en sonde in ʼn mens se lewe. Die onmiddellike effek van die verkeerde kan nie dadelik gesien word nie. Dit lyk selfs aanvanklik asof die optrede onskuldig en sonder negatiewe gevolge gaan wees. Dit verlei jou om daarmee voort te gaan. Met verdrag word jy oorrompel deur nie net die verkeerde optrede nie maar oorval die destruktiewe gevolge van jou optrede jou soos ʼn dief in die nag.

Die Fariseërs worstel met ongeloofwaardigheid, Herodus met magsbeheptheid en aansien.

Die duiwel is ʼn mense moordenaar en leuenaar. Hy het geen goeie bedoelings met mense nie. Wees op jou hoede vir die subtiele aanslag wat vanuit die koninkryk van die duisternis op jou geprojekteer word.

Ons almal is bekend met die metafoor van die paddas in die stadig warm wordende water. Hulle aanvanklike gemak word later ook hul doodsklok en tyding.

Dis geen wonder dat die Bybel sê, moenie die duiwel ʼn vatkans gee nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.