ToekomsVenster: Die vraag oor Jesus se gesag

noorder-ligte

Foto: Isabel Galvez/Unsplash.com

Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?” Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.” Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? …” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik ‘n profeet was. Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Markus 11:27-33

Dis interessant hoedat Markus altyd weer terugkeer na ʼn saak. Hy vertel dat iets gebeur het, los dit dat die innerlike mens so ʼn bietjie daarmee kan worstel en kom dan met ʼn interpretasie en aktualisering van die gebeure. Ook hier doen hy dieselfde.

Nie lank terug nie het Jesus sy ongeduld met skeefgetrekte en veruiterlikte godsdiens demonstreer toe Hy die handelaars op die tempel terrein verdryf het. Ek wonder stellig of hulle dit weer daar gewaag het, die teks sê nie vir ons nie. Dat die nuus oor wat daar gebeur het vinnig versprei het is nie altemit nie. Wie nie daar was om die petalje te aanskou nie het by iemand anders gehoor.

“Het jy gehoor wat by die tempel gebeur het nou die dag.

Julle het mos al van Jesus van Nasaret gehoor.

Is Hy die dalk die Messias nie?”

Uiteraard sou die Skrifgeleerdes en familiehoofde ook daarvan gehoor het. Teen die tyd het hulle al vergadering gehou om Jesus uit te lok en aan te kla. “Kom ons vra Hom oor sy gesag. As Hy sê dat sy gesag van God kom het ons genoeg gronde om Hom aan te kla, veral as Hy Homself met God gelykstel. Sulke voortvarendheid kan nie geduld word nie”.

Jesus is nie aan die slaap nie en ʼn kunstenaar in eie reg. Hy sien deur die bedoelinge van mense en smokkel met die geleerdes se gedagtes. Hy antwoord by wyse van ʼn vraag. Die geestelikes is vas. Skaakmat. Na beide kante is hulle vasgekeer. Daar is nie vorentoe of agtertoe nie. Hier gaan hulle nie rede kry om Hom verdag te maak nie.

Somtyds het ʼn mens meer as reguit antwoorde nodig. Somtyds moet ʼn mens ander mense antwoord soos Jesus geantwoord het. Die geestelikes het geen voorneme gehad om in Jesus te glo nie. Hulle het ʼn rede gesoek om Hom gevange te neem en uit te lewer.

Daar is sulke mense rondom ons. Hulle stel nie regtig belang nie. Hulle motivering is boos en verdag. Partykeer is stilbly ook ʼn antwoord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.