ToekomsVenster: Doen minder

doenlys-doen-minder-plan

Foto: Natalie B/Pexels.com

Ons leef in ’n wêreld waarin die spreekwoordelike rot op die wiel selfs in die platteland sy verskynsel gemaak het. Hoe meer ons doen, hoe meer beleef ons dat ons ’n verskil maak; in wese dat ons lewens tel. Ek het op ’n dag gelees: “A busy agenda doesn’t mean that a life has purpose.

Luister ons na die nuutste groetwoorde tussen mense, word hierdie spreekwoord weerspreek, nie waar nie? Dink maar aan die eerste woorde wat tussen mense gespreek word wanneer hulle mekaar ontmoet: Die eerste persoon sal sê: “Goed en jy?” Waarop die ander sal antwoord: “Besig my vriend, baie besig.” Die eerste persoon doen nie eers die moeite om te groet nie en selfs nie eers om te hoor of sy vriend werklik sou belangstel hoe dit met hom gaan nie. Die ander beskryf hoe dit met hom gaan, maar nie in terme van emosie nie, wel in terme van skedule. ’n Goeie vriend van my neem dit selfs verder wanneer hy my elke keer antwoord: “Ons hardloop jong, dit gaan dol, maar God is goed.” Daar is altyd te veel om te doen en te min tyd.

Wanneer ons na Jesus se bediening kyk, sien ons die volgende raak: Hy beweeg teen die spoed van stap. Hy stap padlangs en ontmoet mense daar langs die pad.

Hy fokus eerste op die enkeling. Die enigste plek waar die massas teenwoordig is, is wanneer Jesus die middagete van ’n bereidwillige jong seun met die duisende wat om Hom gesit het deel.

Die onbenulligste daad in die geskiedenis het die grootste daad in die heelal geword, naamlik dat die Koning van die heelal aan ’n kruis vir ander sou hang. Die eerste bekeerlinge hiervan was die man aan die kruis langs Hom en die offisier voor Hom.

Wat sou gebeur indien ons ons perspektief sou verander? Wanneer ons ’n nuwe woordeskat sou aanleer waar die geringste, die minste, die kleinste daad van gehoorsaamheid juis van waarde geskat word?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.