ToekomsVenster: Ek dink God huil!

traan-trane-oog-huil

Foto ter illustrasie. (Foto: Aliyah Jamous/Unsplash)

Ek plaas hierdie ongepubliseerde brief met huiwering. Huiwering omdat ek bang is dat mense my sal weggooi, afskryf en verketter. Tog brand dit soos ʼn vlam in my hart. Daarom vra ek sommer vooraf, as ek aanstoot gee, vergewe groot asseblief. Dis nie my bedoeling nie.

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae!” – Lukas 2:14 (AFR53)

Die hartseer gebeure in die Midde-Ooste verwys.

Uiteraard het ons as Christene ʼn heil historiese band met Israel. Sommige gelowiges onderneem pelgrimsreise daarheen om as’t ware in Jesus se voetspore te gaan loop. Ek was self verskeie kere daar.

In my geestesoog sien ek Hom as Hy die skares leer, die hongeriges voed en die siekes genees. Ek hoor hoedat Hy die merktekens van die Koninkryk verduidelik en hoedat Hy, deur sy optrede, self die vergestalting daarvan is.

By Golgota se heuwel staan ek stil, oorweldig deur die grootse liefde wat Hy vir mense, alle mense, het. Ek maak ʼn draai by die oop graf en juig oor die hoop wat in en deur die opstanding belowe word.

Ek beleef God se onvergelykbare liefde vir mense, alle mense, ongeag. Mense soos ons, beelddraers, mense oor wie Hy droom, met wie se lewens Hy ʼn doel het.

Mense aan wie se kinders Jesus die Koninkryk belowe.

Ek woon egter in Suid-Afrika. Dit kon Rusland, Oekraïne, Sudan, Noord-Korea, ja, selfs Gaza gewees het. Ek het tog geen aandeel aan waar ek myself by geboorte bevind het nie.

Ek probeer myself die konteks en belewenis van die Palestyne in Gaza indink. Wat ek eens huis genoem het, waar daar soveel kosbare herinneringe lê, my karige maar noodsaaklike besittings was, is nou ʼn hoop verkoolde bakstene.

Ek sien myself in die rommel grou in die hoop dat my kind nog lewe. Ek sien hoedat ek my dooie kleinkind hemelwaarts oplig en vra of daar dan nie ʼn God is wat omgee nie.

Dan slaak ek ʼn sug van verligting dat ek my nie daar bevind nie.

Ek sukkel om te verstaan hoe ʼn Bybelversie of -gedeelte die genadelose verwoesting van menselewens en infrastruktuur kan regverdig.

Ek verstaan nie hoe gedeeltes uit die Bybel aangehaal word sou daardie wêreld-deel vir tyd en ewigheid aan een party behoort terwyl miljoene mense, waaronder tienduisende Christene, eenvoudig moet verdamp nie.

Wat Hamas gedoen het en steeds doen skree ten hemel, maar moet onskuldiges die prys betaal, dit is die vraag.

Nagenoeg 30 000 van hulle en steeds hou die bloedvergieting nie op nie. Inteendeel!

Ek dink God huil as soveel bloedvergieting, hartseer en trauma aan Hom toegedig word.

Ek is nie vir Israel nie. Ek is nie vir Palestyne nie. Ek is vir mense!

Ek bid vir vrede in die Midde-Ooste waarvan Jerusalem ʼn vergestalting is.

Vrede op aarde vir die mense, alle mense, in wie God ʼn welbehae het.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

“Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en vrede op aarde onder mense wat sy goedkeuring geniet.” – Lukas 2:14, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” – Lukas 2:14, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Lukas 2:14
Hierdie woorde van lof, wat die engele bekendgemaak het toe Jesus gebore is, wys dat diegene wat geloof in Jesus stel, God se goedkeuring kan kry en vrede kan geniet.

Vrijburger ·

God se vrede op aade is nie vir “alle mense” nie, maar vir die in wie hy ‘n welbehae het.

Ps. Ek bid daagliks vir vrede in die area.

trotsNAMSA ·

Ek voel ook so ! SA’ers besoek Israel, ek besoek Palestina. Ek loop in die strate waar JESUS geloop het, in Palestina. Ek hoor en sien die Israeliete, meeste ken nie my GOD nie en ek dink aan ons SA’ers wat hulself CHRISTENE noem, kinders van GOD.
Ek sien die muur rondom Gaza, die Wes-Bank en Jerusalem en sien die KIND JESUS rondhardloop.
Nou sien ek net bloed, bakstene en dood. Ek sien weereens hoe mense mekaar haat. PALESTINA, waar my GOD gebore is, gekruisig is en weer opgestaan het. HY IS NIE MEER DAAR NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.