ToekomsVenster: Elkeen het ’n unieke roeping

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

“Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: ‘Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne’.” – Jesaja 43:1-2 (AFR83)

Miskien kan ek vir eers aansluit by gister se gedagte. Ons het gesels oor die belangrikheid om jou eie mens te wees. Jy is na die beeld van God geskape en het ʼn roeping op jou lewe. Om daardie roeping uit te leef, is inderdaad die betekenis en sin van die lewe. Baie mense gaan deur die lewe sonder om hul unieke self ooit te ontdek.

Geen twee mense is dieselfde nie, nie eens identiese tweelinge nie. Ons het ons eie temperament, ons eie verstaan van die wêreld, ons eie lewensfilosofie van wat die lewe die moeite werd maak, ons eie sin van roeping en betekenis, en so kan ʼn mens voortgaan.

Ongelukkig kom min mense ooit daarby om daardie unieke self vlerke te gee.

Ten einde uit te vind wie jy ten diepste is en waartoe God jou bestem, is ʼn taak wat uitgevoer moet word. Jy ontdek dit nie in die verbygaan nie. Jy kom by ʼn punt waar jy vir die Here en vir jouself sê, wie is ek en wat maak ek hier?

Die gevaar is groot om in algemene stellings te verval. Inderdaad is daar gemeenskaplikhede. “Ek is ʼn mens en ek woon op aarde. Ek wil van die wêreld ʼn beter plek maak.”

Dit is goed as ʼn eerste beweging, maar nou moet jy begin om die stelling te verfyn. Gee dit besonderhede en selfs nog meer puntenerige detail. Moenie ophou voor jy gevorder het nie.

Ander mense ken jou somtyds beter as jyself.

Vra hulle wat hulle van jou en in jou raaksien:

  • Watter talente is voorop in jou lewe?
  • Watter geskenke het jy van die hemel ontvang?
  • Waarin en waarmee is jy besonder goed?
  • Wanneer is dit duidelik dat jy die beste weergawe van jouself is?
  • Wat is jou unieke kwaliteite?
  • Waar maak jy die grootste verskil?
  • Waarmee moet jy besig wees?

Die bedoeling is uiteraard nie beeldpoetsery sodat ek en jy nog meer opgesmuk kan raak nie. Dit gebeur so maklik dat ʼn mens redeneer: “Wow, ek is darem spesiaal en die wêreld is gelukkig om my te hê ”. Ja, die wêreld behoort inderdaad verandering te ondergaan omdat jy lewe, maar onthou, alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

Miskien help dit om, soos die proses vorder, aantekeninge te maak, die beskrywing te verfyn sodat jy by die essensie kan uitkom.

Dan weer, die reis is inderdaad ʼn lewensreis, die taak is ʼn lewenstaak, die antwoord kom met verdrag.

Solank jy en ek daarmee ʼn begin maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.