Lees Matteus 6:25-34
God dring Hom nie aan jou op nie. Hy eis nie jou aandag nie. Hy vra daarvoor, uitnodigend, sag, vriendelik. In hierdie gedeelte doen Jesus dit deur vir sy dissipels te leer dat dit belangrik is om éérs aan sy koninkryk aandag te gee. Eugene Peterson vertaal dit so mooi in The Message: “Give your entire attention to what God is doing right now!” Dit is presies wat nodig is. Nie sommer terloopse aandag so nou en dan nie. Gee jou volle aandag aan dit waarmee God nou besig is.
Waarom? Want dit waarmee God besig is, ook in en rondom jou, mag dalk net baie belangriker wees as die paar goedjies waarmee jy besig is. Jesus se uitnodiging tot navolging verdien jou aandag. As jy nie aandag aan Hom gee, intens na Hom luister en sy stem leer ken nie sal jy nooit sy dissipel kan wees nie. ‘n Mens is in der waarheid ‘n dissipel van dit wat die meeste van jou aandag in beslag neem.