ToekomsVenster: Gegiet in God se beeld

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Nega/Unsplash.)

“Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het.” – Genesis 2:7

Wat beteken dit om mens te wees? Is dit een van die vanselfsprekendhede waarvan ons verlede week gepraat het? Het die voorreg, die wonder, die eenmaligheid, die gawe van menswees, vergete geraak in my gedagteswêreld?

Op ʼn dag dink God by Homself. “Ek het soveel interessante goed geskep, maar wil tog nog iets spesiaal doen. Ek gaan beelde van myself maak, items wat soos Ek lyk.”

Goed, ek parafraseer nou ʼn bietjie, maar bly by my.

Wanneer ʼn mens iets wil maak, gebruik jy ʼn vorm. Wat jy as gietstof gebruik (bv. gips) word hard en die voorwerp wat na vore tree is ʼn weerspieëling van die vorm wat jy gebruik het.

God besluit toe dat Hy Homself as vorm gaan gebruik. Hy maak modder aan en giet dit in hierdie Goddelike vorm. Met verdrag word die modder droog en siedaar, daar lê iets wat net soos God lyk, maar dis leweloos.

“Nee,” redeneer God by Homself, “ek wil verder gaan. Die ding moet lewe”.

God trek die lewelose beeld nader en blaas soos wanneer ʼn mens iemand mond-tot-mond-asemhaling gee, asem in sy neus.

Die iets wat God gemaak het, begin reageer, beweeg.

Dit strek soos iemand wat lank geslaap het.

Die iets se oë gaan oop en dit reageer op klank.

Die iets se mond gaan oop en daar kom klank uit.

God begin by die ABC en leer die iets, wat Hy nou mens noem, die ABC.

God stel Homself aan die mens voor en verklaar sy ingenomendheid met wat Hy gemaak het.

“Jy is soos Ek,” sê God.

Is dit nie merkwaardig nie?

“Jy is nie Ek nie, jy is soos Ek. Jy moet jou plek ken, maar jy hoef my nie te vrees nie. Ek het jou gemaak en ek sal vir jou sorg.

“Ek maak selfs ʼn maat wat by jou pas. Lewe vir my”.

Waar kom die mens vandaan en waaraan herinner die verhaal ons?

Waartoe roep die gebeure ons as dit nie tot diepe dankbaarheid, verwondering en toewyding is nie?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Baie goed en mooi beskryf ds Jannie.God het op ‘n stadium gesê,dat hy spyt was dat hy die mens gemaak het.Sou hy nie in sy alwetendheid wel geweet het dat die mens sou sondig nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.