ToekomsVenster: Gemaak met ’n besonderse doel

(Foto: Quino Al/Unsplash)

“So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” – Efesiërs 1:4-5 (AFR83)

“Voor die grondlegging van die wêreld”, lees die Ou-vertaling. Interessant hoe ʼn frase in ʼn mens se gedagtes kan vassteek, nie waar nie.

Toe ons jonk was en Sondagskool bygewoon het, moes ons gereeld tekste memoriseer. Vandag is die Bybel geredelik op verskillende platforms beskikbaar en verskillende vertalings daarmee saam. Tog glo ek in die waarde van Bybelse waarhede wat in ʼn mens se geheue ingeprent is. Dit is juis daardie waarhede wat in tye van nood en uitdagings ʼn mens dra.

Paulus maak gewag daarvan dat God ons, voor die wêreld geskep is, reeds uitverkies het.

Dit is ʼn tameletjie teks en ʼn mens moet versigtig wees om nie meer daarin te lees as wat die teks wil sê nie.

Vrae soos het die mens dus ʼn voorgeskiedenis, het ons reeds bestaan voordat ons op moeder aarde tuisgekom het, mag dalk by ʼn mens opduik?

Ek dink darem nie so nie.

Psalms 139:16 vertel juis hoe God ons in ons moeder se baarmoeder raakgesien en geken het.

Dit sou seker die ideale plek vir die digter gewees het om aan te sluit by die gedagte dat ons ʼn vroeëre bestaan gehad het, sou dit so wees.

Die woordjie “uitverkies” word somtyds met baie emosie gelaai. Sou dit beteken dat God sommige gekies en ander dus verwerp het?

Ek dink nie so nie.

Die Bybel vertel dan juis dat God geduld het met die aardbewoners, daarom dat die wederkoms uitbly. Hy wil nie dat sommige verlore gaan nie. (Gaan lees 2 Petrus 3:9). Dit is inderdaad genade tyd. Nee, die uitnodiging kom ewekansig na alle mense toe. Niemand sal God kan verwyt as hy verlore gaan nie, inteendeel.

Die klem lê veel eerder by God se bedoeling met mense. Heilig en onberispelik.

Heilig beteken afgesonder, eenkant gesit vir ʼn besondere doel. Onberispelik beteken inderdaad anders as die heersende kultuur. Inderdaad, heilig.

Dié hoë standaard diskwalifiseer alle mense, die dominee ingesluit. Ons leef meer dikwels onverskillig en met ʼn trae harde hart. Dank die Here dat Hy in Christus Jesus ook daarvoor voorsiening gemaak het.

Dit beteken egter nie dat ons maar in onverskilligheid kan voortploeter nie. Daarvoor is die Woord net te duidelik. Ons het saam met Christus gesterf, en is saam in en met ʼn nuwe lewenskwaliteit opgewek. (Lees Romeine 6)

Ons streef dus te midde van ons eie daaglikse worsteling, die Gees en die vlees volgens Galisiërs 5, steeds daarna om met die hulp en leiding van die Heilige Gees die roeping meer en meer waardig te wees.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.