ToekomsVenster: God aanvaar jou onvoorwaardelik

(Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” – Romeine 13:8 (AFR83)

“Ek hou nie van jou nie!” Sjoe, dis darem nie vleiend om so iets vir iemand te sê nie. Die meeste van ons sal twee keer daaroor nadink voordat ons iemand anders so ʼn onvriendelike opmerking toesnou. Dis nie bedagsaam nie en kan baie skade berokken.

Ek vermoed die meeste mense wat hier lees, het nog nooit vir iemand anders gesê: “Ek hou nie van jou nie”. As daar dan spesiale omstandighede is, dan hou jy hierdie mening vir jouself. Jy kan die persoon vermy of kontak tot ʼn minimum beperk.

Dit is so dat ons van mekaar verskil en dat alle mense nie ewe goed met mekaar klaarkom nie.

Desondanks kan ons nie wegkom van die Here se Woord wat sê dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefgehad het nie.

“Ek hou nie van jou nie”, onvriendelik, ondeurdag, onbedagsaam, sommer net lelik.

Wat daarvan as die ander persoon jyself is?

Hoe dikwels is dit ons vertrekpunt wanneer ons oor onsself nadink. Selfkritiek en selfveroordeling is aan die orde van die dag. Jy trek altyd aan die kortste ent, is altyd verkeerd en is nie aanvaarbaar nie.

Jy is eintlik ʼn fout en moes nie hier gewees het nie. Dalk voel jy somtyds soos Job wat sy geboortedag vervloek het.

Wat ʼn verskriklike ding om aan jouself te sê en te doen.

Tog doen ons dit.

Die vraag is waarom en waarom ons daarmee voortgaan?

Dit mag as ʼn verassing kom, maar as jy nie van jouself hou nie sal ander ook nie van jou hou nie. As jy jouself nie liefhet nie, kan jy nie liefde bewys nie. Iewers sê Jesus dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

Ek ken nie ʼn plek in die Bybel waar ons al gesê word om onsself te mishandel, te verwaarloos en te minag nie. God hou so baie van ons dat hy sy Seun gestuur het om ons die ewige lewe te gee. Die Bybel sê God het ons in Christus Jesus, voor die grondlegging van die aarde, uitverkies om syne te wees.

Hy het ons lief, selfs te midde van ons grootste mislukkings. Die Bybel sê nie: “Verander eers en dan sal ek jou aanvaar as my kind nie”. Die Bybel sê: “Ek aanvaar jou as my kind en sal jou help om te verander waar dit nodig is”.

Ek vermoed ons teologie mag iets daarmee te doen hê, of dalk liewer,  ʼn verkeerde verstaan van ons teologie. God is ʼn goeie en vriendelike God wat ʼn openheid het vir alle mense ongeag hulle konteks, agtergrond, talente, vermoëns en alles wat daarmee saamgaan.

God aanvaar ons onvoorwaardelik.

Hy sien ons foute en ons sonde nie oor nie, maar sien ons eers raak voordat hy deur sy Heilige Gees begin werk aan dit wat nie deel van die Christus-karakter in ons lewens verteenwoordig nie.

Ek vertrou dat jy mooi verstaan. My bedoeling is nie om die verkeerde te verskoon nie.

As die Heilige Gees jou oortuig van sonde, oordeel en geregtigheid, sal Hy ook die genade gee om daarvan weg te draai.

As jy met selfveroordeling bly leef, is dit nie die Heilige Gees wat jou oortuig nie, maar veel eerder jou eie vooropgesette idees, standaarde en norme wat ander vir jou opgestel het, of jou verkeerde verstaan van God se bedoeling met jou lewe.

Gaan staan voor die spieël, kyk diep in jou oë en sê hardop vir jouself: “Jy is die beste ding wat ooit met my gebeur het. Ek aanvaar jou onvoorwaardelik, ek is lief vir jou, gee om vir jou en aanvaar jou”.

Miskien sal dit dan makliker wees om van ander mense te hou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.