ToekomsVenster: God roep ons die diep see in

(Foto: Silas Baisch/Unsplash.)

Ver die blou see in, durf ʼn aantal branderplankryers die diep see aan. Die ideale golf word manhaftig onderwerp aan die meesterlike besetting daarvan deur mense wat weet hoe dit gedoen word.

Tipies ʼn ouer wil ek van die kant af skree, nie so diep nie mense, nie so diep nie. Dis egter duidelik dat dit nie die eerste branders is wat die entoesiaste aandurf nie. Vir ʼn oomblik kraai hulle koning as die golf gedienstig gemaak word aan die aanskoulike gebeure.

Hier in die vlak waters tree vier beginners aan om geskool te word in die kuns van branders ry. Met geduld word die aspirant-branderplankryers aan die geheimenisse van die ambisieuse gimnastrade voorgestel. Wanneer hulle gereed is sal die diep see aangedurf word.

Elke probeerslag sal hulle oefen in die kuns wat net vir ʼn paar mense beskore is. Die meeste van ons sit geborge onder ʼn oopgespreide sambreel en bewonder die bykans astrante manhaftigheid.

Kom ek sê dit ruiterlik – ek het net te veel respek vir die see om dit so aan te durf.

Overgesetsynde, ek is te bang.

Laat ek sommer net eerlik wees.

Derhalwe sal die triomfantelike ervaring waarskynlik altyd by my verby gaan.

Goed, dalk is daar ander terreine waar ek dit waag en ander huiwer, maar laat ek by die punt kom wat ek graag wil maak.

Die lewe, ook die geloofslewe is ʼn uitnodiging om die golwe te ry.

Die golwe spoel dikwels oor ons, verinneweer ons, laat ons na ons asem snak en bykans bewend na die vlak water strompel.

Ons is nie geoefen nie.

Ons waag dit nie met God nie.

Ons bly in die vlak water waar ons veilig is.

Ons leef met die droom van eendag, maar eendag kom nooit en as ons weer sien het die lewe ons ingehaal.

God wil ons toerus vir die diepsee.

God wil ons op die branderplank van sy genade tel en die ekstase van die rit op die water laat geniet.

Almal begin egter in die vlak water.

Hulle teken aan vir die kursus, die opleiding.

Hulle droom oor wat kan wees en bring in plek wat nodig is om die droom ʼn werklikheid te maak.

Kom uit onder die sambreel – sit jou voete in die water. Kry jou branderplank en begin met die opleiding.

Die seën lê in die diep water van geloofsvertroue.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.