ToekomsVenster: God se genade is genoeg

kombers-en-beker-grasveld

Foto: @byadonia/Unsplash.com

Lees 1 Kor. 13 gerus in ander vertalings (in ’83-vertaling, Die Boodskap, Nuwe Lewende Testament en Amplified Bible) ten einde die volle reikwydte van die teks te verstaan en te omarm.

Een van die kenmerkende eienskappe van die liefde is dat dit ander se sondes en seerkry toemaak, bedek.

Daar is mense wat daarvan hou om ander se verleentheid vir hul eie voordeel uit te buit. Afguns, jaloesie, afknouery kan die motivering wees maar hulle vind vir een of ander duistere rede vreugde daarin ander mense se gebrokenheid ten toon te stel.

Dit moet aanskoulik gemaak word en mense wat reeds verneder is, selfs vanweë hul eie toedoen, word verder verinneweer.

Wie van ons is daar wat nie al onbesonne dinge aangevang het nie?

God se genade is genoeg.

Genade is ʼn kombers wat oor ons gebrokenheid gegooi word. Die Heilige Gees maak ons nuut en verander ons maar gaan nie ons foute aan die groot klok hang sodat ander daarvan kennis neem en ons verder verneder nie.

Ek kan nie dink aan ʼn geleentheid waar Jesus my al verneder het nie. Ander hét my al seergemaak en ek (en jy) ander ook. Ons moet bid dat ons beheers word deur die Heilige Gees en nie toegee aan die negatiewe gesindheid van seermaak en boelie nie.

God gooi ʼn kombers van liefde oor my om my naaktheid te bedek.

Ek herinner jou aan die besondere verhaal van Noag na die ark weer op droë grond staangemaak is. Totaal uitgeput het hy naak en onder invloed in sy tent gelê. Van sy seuns het daaroor gelag maar ander het hul vader se naaktheid bedek.

Dit is in besonder van toepassing op die huwelik. Ons word geroep om mekaar te beskerm en te bedek. Mag die Here ons bewaar dat ons mekaar se naaktheid sal toemaak onder God se liefdeskombers.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.