ToekomsVenster: God woon onder ons lofgesange

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

“Ander mense het my gisteraand tot by God gesing.” Dit is by dieselfde dominee se X-profiel waar ek hierdie inskrywing lees.

Ontsettend mooi, ek is seker jy sal daarmee saamstem.

Om te kan sing is ʼn fenomenale gawe. Jy hoef nie te “kán sing” om te kan sing nie. Almal kan sing. Op die noot of van hom af, ongeag, sing net.

Sover ek weet hoor mense wat nie nootvas is nie dat hulle vals sing nie. Ag, bestaan daar so iets soos vals sing? Is sing dan nie ʼn uitdrukking van menswees nie?

Goed, sommige is besonder begaafd en volgens mensgemaakte standaarde sing hulle pragtig. Soms luister ʼn mens na opnames wat oor die radio of TV gespeel word en jy wonder wie vir daardie persoon gesê het hy kan sing, en tog is hulle dikwels die mense wat met die pryse wegstap.

Sing en die waardering daarvan is subjektief. Wat vir die een mooi is, is vir die ander geen plesier nie. Sommige hou van opera en ander voel dat die soort musiek hulle teen die mure uitdryf. Sommige sing van die Klein Karoo en die Sederberge en ander voel dis vlak en glad nie kuns nie.

Soveel mense, soveel opinies.

Sing kom veral in die erediens tot sy reg. Daar maak dit nie saak wat ander dink nie. Ek, jy, ons sing vir en van God. Ons sing vir ʼn hemelse gehoor. Ons fokus is daar en nie hier nie.

Hy wat verhewe, merkwaardig en buitengewoon kosbaar is. Wanneer ʼn mens so sing beweeg die Gees. Hy voel welkom. God woon onder die lofsange van Israel, sê die Bybel.

Kerksang mag nie treurig, afgeskeep en halfhartig wees nie. Dit ontsier die erediens en doen die eer van God geweld aan. Die engeleskaar sing sonder ophou, hulle roep dit uit, dit stroom soos die golwe van die see, dit kom soos dreun-weer en met flitse.

God is groot. Ontsagwekkend.

Sing in jou huis, in jou motor en in die stort as dit moet. Druk die gleufies onder die deur met ʼn handdoek toe as jy nie wil hê ander moet hoor nie. As die mure dun is en jy skaam voel, neurie jou wysie, maar maak musikale geluide tot eer van die Here.

Sing omdat jy bly is, mens is, medemens is, en sing omdat jy leef.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.