ToekomsVenster: Gryp die dag, gryp die lewe

(Foto: Juan Giraudo/Unsplash)

“Aan die Here kom die lof toe vir altyd. Amen, ja, amen.” − Psalms 89:53 (AFR83)

Ek gesels met die ekonoom Dawie Roodt. Dawie is ʼn bekende sakeman wat aan die hoof staan van ʼn baie groot onderneming wat spesialiseer in finansiële dienste. Hy is uiters bekwaam, belese, en energiek. Sy entoesiasme is aansteeklik en die manier waarop hy die lewe tegemoet gaan, indrukwekkend.

Nie dat enigiets sommer net in Dawie se skoot geval het nie. Dit het harde werk gekos en hy is steeds daarmee besig. Hy doen moeite om ingelig te wees sodat hy aan potensiële beleggers die beste moontlike raad kan gee. In dié verband lees hy duisende artikels elke jaar.

In die onlangse verlede het Dawie die berg Kilimanjaro uitgeklim. Hy vertel met deernis van sy ervaring en die uitdagings wat aan hom gestel is. Hierdie is maar een van talle avonture waarmee hy homself besig hou.

Ek vra hom uit oor sy lewensfilosofie. Dis eenvoudig, maar grensverskuiwend. Dis anders as die manier waarop die meeste van ons, myself waarskynlik ingesluit, leef.

Dawie sê hy leef met ʼn “ja” vir die lewe. Wanneer die lewe hom uitnooi om saam te reis en die volgende avontuur mee te maak, sê hy sommer dadelik “ja”.

Te veel mense sê nee vir die lewe. Voorbehoude, agterdog, vrese, minderwaardigheid, leuens wat jou vertel is, stukkende harte en lewens en hartseer ervarings van die verlede veroorsaak dat jy die lewe met gevoude arms tegemoet stap.

Dat die lewe vol avontuur is en nuwe geleenthede en uitdagings bied, kan niemand ontken nie. Ons kyk na die mense op TV wat hierdie uitnodiging aanvaar het en bewonder hulle vir hulle moed, deursettingsvermoë en energie. Snoesig tuis in ons  gemakstoele, kyk ons hoe ander mense die lewe en sy volheid omhels. Ons bly toeskouers, maar is nie deelnemers nie.

Ons sit op die pawiljoene en klap hande terwyl ander mense die spel van die lewe speel. Intussen gaan die lewe, en die avontuur wat daarmee geassosieer is, by ons verby.

Dawie Roodt sê hy leef met ʼn “ja” vir die lewe. Dis niks minder as Evangelie nie. Om “ja” te leef, is die gevolg van die versoeningswerk wat Jesus aan die kruis van Golgota vir ons bewerk het.

Kan ons nie ontslae raak van al die vrese en voorbehoude wat ons lewens negatief beïnvloed nie?

Kan ons nie ons arms oopmaak vir mekaar en die toekoms omhels nie?

Carpe diem, gryp die dag, gryp die lewe.

Sê vandag “ja” vir die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.