ToekomsVenster: Het jy al vuurvliegies gesien?

Foto: Toan Phan/Unsplash

Ek wonder of jy al vuurvliegies gesien het? Ek het dit enkele kere in my lewe beleef. Ek verbeel my dat dit meer voorgekom het toe ek ʼn kind was. Miskien is dit die verwondering wat my bybly.

Ek herinner my dat toe ek en my twee seuns gaan stap het, was dit in die Waterberge, ek digby die kampvuur vuurvliegies gesien het. Dis die mooiste gesig denkbaar.

Ek haal uit Wikipedia aan: “Die vuurvliegies, waarvan sowat 1 000 spesies beskryf is, word van ander insekte onderskei op grond van hulle vermoë om lig te maak en oortref die mens se tegnologie met die wyse waarop hulle dit doen. Tydens die ligmaakproses gee hulle lig geen hitte af nie, terwyl selfs die beste fluoresseerlampe ‘n sekere hoeveelheid hitte uitstraal. Die vuurvliegiemannetjie en glimwurmwyfie se ligorgane sit in hulle agterlywe. Dit bestaan uit twee lae selle. Die boonste laag bevat senuwees en ‘n setagtige wit vloeistof en in die tweede laag is selle wat die lig reflekteer”.

Volgens ʼn Facebook-inskrywing kry ʼn mens nog vuurvliegies in die Oos-Kaap, langs die Groot Kei-rivier. Insect Africa sê ʼn mens loop die mooi goed  langs die Wildekus en die ou Oos- Transvaal raak. Genoeg om aan te dui dat hierdie eksotiese gebeure nie sommer oral voorkom nie. Jy moet letterlik daarna soek en fyn ingestel wees om dit raak te sien.

Dit is te pragtig en laat ‘n mens dink aan feetjies in die nag.

Ons is terdeë bewus van muskiete wanneer dit donker is. Wie ken nie die onnutsige en uittartende lawaai van ʼn muskiet wat net nie wil bes gee terwyl jy probeer slaap inkry nie.

Niemand verjaag vuurvliegies nie. Dis ʼn uitsonderlike skoonheid.

As jy fyn oplet sal jy die dartelende vuurvliegies in jou donker oomblikke raaksien. Jou oë moet effe ingestel wees en jy moet dalk soek, maar dit is daar.

Donker bevat somtyds die mooiste skoonheid. Donker bewaar somtyds die beste geheime. Donker is spaarsamig en soos ʼn introvert. As jy dit eers leer ken ervaar jy die diepte.

Moenie jou donker weg wens nie. Soek na die vuurvliegies. Hulle is daar.

Ps. 139:12 – maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Ek het ook as kind laas vuurvliegies gesien. Of flits hulle dalk somtyds verby en word aangesien vir iets anders wat blink in die nag? Of is ons dalk nie meer eens genoeg met die natuur om dit raak te sien nie. Vlieg hulle in ‘n golflengte wat ons as kinders laas raak gesien het? Nee, dit kan nie wees nie. Vuurvliegies het geëmigreer. Na Aus, NZ, die Kalahari of die Oos-Kaap.
Ek het in die Wes-Tranvaal opgegroei en onthou hulle in my klein-wees-jare. Hier word nou ‘n vraag gevra wat ek ook al opgemerk het. Miskien hou die vuurvliegies nie van modernisasie nie – om met kunsmatige beligting te kompeteer nie. Want wat die mens gemaak het is minderwaardig. Die natuur is groot; dit is wonderlik.

Oom Harry ·

Hulle bestaan nog. Ons het onlangs in die suide van Duitsland in die aand deur n klein woud gestap en oral was vuurvliegies en het met verwondering besef waar al die fee-verhale vandaan kom. Iets wat ons so graag aan die SA kinders sal wil wys. Ons het mos nie meer woude waar ons snags en bedags kan stap nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.