ToekomsVenster: Hy is waarlik God

‘n Spekboom. (Foto: FitNish Media/Unsplash)

“Van die skepping van die wêreld af kan ʼn mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ʼn mens nie met die oog kan sien nie.” – Romeine 1:20

Ek wonder of hierdie afgelope week se nadenke en leer by die spekboom ook vir jou betekenisvol was? Daar is soveel lesse om te leer uit die natuur, ʼn mens moet net oop oë en met verwagting leef.

Die teks in Romeine is van toepassing – niemand kan hulle by God verontskuldig nie. Sy handwerk getuig van sy bestaan en heerlikheid.

Ek haal weereens van Shamwari.com aan: “ʼn Spekboom is pragtig as dit in volle blom is; die opvallende rooskleurige blomme bedek die vetplant in ʼn see van pienk. Die blomme lok insekte en voëls van ver af as gevolg van sy nektar. Die wonderlike kleur is ʼn welkome gesig in die andersins groen of geelbruin landskap van die Oos-Kaap.”

Vandag is dit die gedagte aan die aanloklikheid van die plant wat my opval. Dit is juis die vrolike en jubelende kleureprag wat mens en insek nader wink. Jy kan nie daarby verbystap sonder om dit raak te sien nie. Dit streel jou oë, dit maak jou bly, dit laat jou in verwondering staan.

Christene in volle blom en kleur − dit is sekerlik hoe ons in die wêreld daar moet uitsien. Dit is die Gees van die Here wat ons in staat stel om in positiewe en uitnodigende kleur die wêreld nader te wink.

Mense moet spontaan vra: “Wat is dit aan jou wat so aanloklik en aanskoulik is? Jy is altyd blymoedig en het altyd ʼn woord van waardering vir ander. Jy staan gereed om mense in nood te dien, luister graag en maak tyd vir jou medemens. Ek hoor jou nie gedurig kla nie, selfs wanneer die lewe nie so maklik is nie. Jy praat nie sleg van ander mense nie, skinder nie oor ander se verleentheid nie, gedra jou stylvol en is ʼn toonbeeld van… nou-ja. Ek kan dit nie mooi definieer nie maar daar is net iets aan jou wat ander mense na jou toe aantrek. Jy is soos ʼn plant wat in volle blom staan”.

Jesus maak die verskil. Sy Gees en Woord woon en werk in ons. Dit is die Christus-karakter wat mense raaksien. Dit is die teenwoordige God van hemel en aarde wat mense aantrek en nadertrek.

Mag ons ook ʼn aantrekkingskrag wees soos die spekboom wat getooi staan in vrypostige pienk en rooi.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.