ToekomsVenster: Is God afwesig?

gebed-seun-skemer-sonsondergang-deur-juanita-badenhorst-2018-06

Foto: Juanita Badenhorst.

“Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” – Psalms 8:5 (AFR83)

Ons het pas Menseregtedag gevier in Suid-Afrika. Nou ja, ek weet nie hoeveel mense fees gevier het sonder om aan die saak waaroor dit gaan aandag te gee nie. Ongeag vertrou ek dat dit ʼn sinvolle dag was.

Menseregtedag het uiteraard ʼn hartseer geskiedenis. Die gebeure by Sharpeville is in die psige van ons hartseer Suid-Afrikaanse geskiedenis ingeëts. Waarom die wêreld eers die een of ander krisis moet beleef voordat die saak waarom dit gaan die nodige aandag kan verdien, wis ek nie.

Dink maar aan die sestien dae van aktivisme wat ons jaarliks vier in Suid-Afrika.

Die ongebreidelde mishandeling en verrinnewerings van vroue in Suid-Afrika moes eers tot ons deurdring voordat ons by die punt gekom het waar ons die misdaad daaragter kon identifiseer, en daadwerklik aandag gee.

So kan ʼn mens seker ʼn hele aantal sake bekyk. Eers die hartseer, trauma en teleurstelling en dan word hopelik iets verdienstelik gebore.

Ek wil so vertrou dat iets betekenisvol groei uit die trauma wat tans in die Midde-Ooste beleef word.

Ek luister na ʼn voordrag in die verband waar die spreker praat oor ʼn verstaan van pyn in die wêreld en die “oënskynlike afwesigheid” van God.

Ek is een van die wat vra waarom God nie ingryp en ʼn einde bring aan die waansinnige bloedvergieting nie.

Die Oekraïne is ʼn ander eietydse voorbeeld.

Die pyn hope, die weeskinders wat agtergelaat word, die emosionele en geestelike wanorde wat jare sal vat om te genees laat ʼn mens vra na God se bedoeling met hierdie wêreld.

Dan sê die spreker na wie ek verwys dat dit nie God is wat by wyse van spreke verhoor word nie (God is not on trial), ons staan skuldig. Wat het ons met hierdie wêreld, wat God in sy wysheid aan ons toevertrou het, gemaak?

Inderdaad is die vraag wat gewone mense soos ons kan doen om ʼn verandering te weeg te bring?

Ons woon nie in daardie plekke nie, wat kan ons dan tog doen, of is ons gedoem tot magtelose toeskouers wees?

Uiteraard nie. Gebed is die eerste vorm van weerstand. Ons mag nie ophou bid vir vrede nie.

Ons profetiese getuienis moet helder en duidelik weerklink. Dit kan tog nie so aangaan nie.

Hoe en waar spreek ons onreg in ons eie konteks aan?

Hoe en waar roep ons mense tot verantwoording?

Ons het ʼn plig in die verband, maar ons moet toesien dat die vinger nie na ons gewys kan word nie. Integriteit het ʼn skaars kommoditeit geword in ons dag. Is Christene nog mense met integriteit?

Eersdaags kry ons ʼn geleentheid om ons misnoeë te kenne te gee vir die wyse waarop menseregte in Suid-Afrika geminag word.

Gaan jy opdaag?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

skurweberg ·

Ek hoop nie dat die mens sy roeping in die stryd om oorlewing verkeerde verstaan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.