ToekomsVenster: Is jy mismoedig of hoopvol?

juanita-badenhorst-danabaai-04-2019-01-10

Foto: Juanita Badenhorst.

Daar is sulke donker mense, miskien ken jy ook van hulle. As hulle ʼn vertrek binnestap is die atmosfeer somber en gespanne. Dit lyk of hulle gedurig frons en beswaard is. Hulle is onvergenoegd en foutvinderig. Niks is reg nie en daar skort met alles.

Christene is anders.

As Moses van die berg af kom skyn hy met die heerlikheid van God, soveel so dat die mense nie na hom kan kyk nie. Hy moet sy gesig bedek maar gaandeweg taan die heerlikheid.

Ons is nie soos Moses wat sy gesig met ‘n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was.

Nuwe Testamentiese egter is die heerlikheid van die Here voortdurend by ons. Die Gees van heerlikheid leef in ons. Hy skyn deur ons. Die duisternis is verdryf en die lig van sy teenwoordigheid het van ons besit geneem.

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Ons mag somtyds soos die erdekruik stukkend raak maar dan loop lewegewende en aromatiese olie uit.

Paulus getuig van die stryd enersyds maar die oorwinning andersyds. Ons is erdekruike wat maklik breek, maar die krag wat alles oortref, kom van God.

Ons mag verdruk word maar is nie terneergedruk nie.

Ons mag vervolg word maar nie van God verlaat nie.

Ons mag teen die grond gegooi word maar word nie vernietig nie.

Ons deel nie net in die lyding van Jesus nie maar ook in sy opstandingskrag en oorwinning.

As daar iets is wat Suid-Afrika, ja die wêreld nodig het, is dit ʼn positiewe omgewing. Nie “mind over matter” nie, jy ken die uitdrukking. Nie die krag van positiewe denke nie, ongeag hoe belangrik dit mag wees.

Nee, hoopvolle mense.

Mense wie se sekuriteit nie in eksterne dinge, omstandighede, of ander mense gesetel is nie. Mense wat hul identiteit, hul ín Christus identiteit uitleef en van daardie vertrekpunt af verder die wêreld en sy uitdagings tegemoet gaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.